Die Barnard-gesin (van agter links) is Heidi en Gerhard en voor hul twee seuns Marno (5) en die wyle Gerhardo.


“Hy het dit nie verdien nie; hoekom het die Here my kind geneem?”

Hierdie is maar net een van die vrae wat deur die gedagtes van ’n jong ma van Vredenburg maal nadat haar seun Maandag (2 Desember) kort voor middernag onverwags gesterf het.

Heidi Barnard se seun Gerhardo Barnard (11), ’n gr. 4-leerder aan die Laerskool Vredenburg, was Maandagoggend nog “piekfyn” voordat hy skool toe is. “Hy het nog die drom uitgeneem en gesê ek moet ’n lekker dag hê. Hy was glad nie naar of siek nie, want as hy siek was, sou ek hom by die huis gehou het,” vertel Heidi.

Sy het egter later die oggend ’n oproep van Gerhardo se skool ontvang dat sy hom moet kom haal omdat hy siek geword het. Heidi het met haar ma, Tillie van Zyl, gereël om Gerhardo by die skool te gaan haal.

Van Zyl sê toe sy by die skool kom, kon sy dadelik sien dat haar kleinseun geen energie het nie en papperig voorkom.

Van Zyl sê sy het hom huis toe gevat. “Hy het gekla van maagpyn en begin opgooi en sy maag het aanhoudend gewerk. Hy het later opgehou met opgooi en sy ma het hom kom haal,” vertel Van Zyl. Heidi het soos enige ouer alles in haar vermoë gedoen om na haar seuntjie om te sien en hom attent gemaak daarop dat hy vir haar moet sê as hy slegter begin voel.

Later die aand het Gerhardo sieker geword en sy ouers het die besluit geneem om hom hospitaal toe te neem. “Ons het hom in die kar gelaai, maar nog voordat ons by die hospitaal kon kom, was hy weg.”

Heidi beskryf die verlies van haar seun as ’n onbeskryflike pyn en ’n werklikheid waarmee sy en haar man nie kan vrede maak nie. “Hy is weg; hy is weg! Ek kan nie nog meer smart verduur nie. My kleinkind is weg, die ergste van alles was dat dit so skielik was. My hart is so baie seer en dis baie moeilik. Hy was my kroon­prins en ’n lieflike kind. Ek weet nie hoekom die Here hom geneem het nie; ek wag nog vir antwoorde,” sê ’n hartseer Van Zyl.

Heidi beskryf haar seun as iemand wat baie goeie maniere gehad het, baie stil en teruggetrokke was en altyd hand bygesit het wanneer dit by huistakies gekom het. Sy moes hierdie swaar nuus ook aan haar jongste seuntjie van vyf jaar verduidelik – ’n gesprek waarvoor geen ouer voorbereid is nie.

“Ek mis my kind verskriklik baie en wil graag by hom wees. Ons lewe gaan glad nie dieselfde wees nie,” voeg ’n emosionele Heidi by.

Dit is die soveelste slag wat die familie die afgelope vyf maande tref. In Augustus het Van Zyl ’n beroerte gehad, in September het sy haar man aan die dood afgestaan, wat Heidi sonder haar pa en haar twee kinders sonder hul oupa gelaat het. Slegs twee maande daarna (op Woensdag 6 November) was Van Zyl se bakkie in ’n ongeluk op die Velddrif-Bergrivierpad betrokke, waarin nege insittendes beserings opgedoen het en haar en haar werkers sonder ’n inkomste gelaat het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woord­voerder vir die Weskus-polisie, sal ’n lykskouing vandag (Donderdag 5 Desember) gehou word om die oorsaak van Gerhardo se dood te bepaal.

Sy het sosialemediagebruikers ge­waarsku om nie vals gerugte te versprei nie nadat op sosialemediaplat­forms bespiegel is dat Gerhardo se dood vermoedelik verband hou met ’n pakkie tjips. Heidi sê haar kinders eet glad nie sulke tjips nie, want dis nie iets wat sy vir hulle koop nie.

Verskaffers van die pakkies tjips wat die afgelope tyd betrek word by gerugte dat daar pille in die pakkies is, het vroeër aangedui strafregte­like klagtes word oorweeg teen mense wat vals gerugte versprei, soos verlede week berig is (“Criminal charges considered over ‘misinformation’ ”, Weslander, Donderdag 21 November 2024).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article