Cedric Williams, komiteelid van die Royal School of Church Music (regs), oorhandig die sertifikaat aan Lennie Davids.


Die voormalige kringbestuurder Lennie Davids van Vredenburg het ’n goue sertifikaat van die Royal School of Church Music ontvang.

Davids is met hierdie sertifikaat vereer vir sy betrokkenheid vir meer as 40 jaar by onder meer die kerk, die onderwys en die gemeenskap.

Davids is gebore in Heidelberg, ’n kultuurdorpie waar kinders sowel as volwassenes ’n passie vir die kunste het. Op laerskool het hy begin kitaar, trekklavier, banjo en saksofoon speel.

Sy twee ouer broers (albei oorlede) was betrokke by Young Royal Shepherds Kersfeeskoor en al die instrumente is by hul huis gestoor. Davids vertel graag hoe sy ouer suster hom middae ná skool moes help om die trekklavier vas te hou, want sy arms was nog te kort.

Sy vaardigheid met die trekklavier het meegebring dat hy lid van die orkes geword het wat by Kersfeeskoor-kompetisies opgetree het. Hy het die trekklavier bespeel en waarde toegevoeg tot die gehalte van die musiek by die voorgeskrewe liedere. Sy eerste onderwyspos was in Saldanha. Dit was groot opoffering om op ’n Vrydagmiddag Heidelberg toe te ry sodat hy saam met die Kersfeeskoor kon oefen voor die Sondag se kompetisie.

Hy was ook daarna onderhoof by ’n skool in Heidelberg, sy geboortedorp. Dit is hier waar die kerk hom geestelik verryk het. Male sonder tal het hy smiddae by die kerk aangekom om as altaardienaar te help om die koperkandelare skoon te maak. Hierdie ervaring het ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak.

Volgehoue toewyding en gemeenskapsbetrokkenheid het uiteindelik vrugte afgewerp met sy aanstelling as adjunkhoof op Ceres in 1978. Lennie was hier orrelis en koorleier tot 1983. Die uitdaging was groot aangesien hy gedurende 1979 vir die jaar as skoolhoof moes waarneem. Insgelyks het die kerk hom ook nadergetrek as leke-bedienaar. Dit het meegebring dat hy ’n lisensie hiervoor van wyle emeritus aartsbiskop Desmond Tutu ontvang het. Voorts het hy as koorleier ’n toer na Swaziland vir sy koor suksesvol beplan. Dit was ’n merkwaardige geleentheid wat groot byval gevind het.

Met sy aanstelling as skoolhoof van Panorama Primêr in Vredenburg in Januarie 1984 kon tereg gesê word dat alles die vrug op stryd was. Die gedagte van ’n verenigde groep kerkkore het by hom begin. Dit het hom genoop om met sy destydse rektor, Dean Titus Daniels, hieroor te praat. Ná ’n vergadering in Maart 1984 met koorleiers van so ver as Springbok is die Vereniging van Kerkkore gestig met Davids as voorsitter en Jacob Cleophas as tesourier.

Onder aanmoediging van Biskop Raphael Hess, ondersteun deur vader Christopher Swartz, kapelaan van die kore, het die vereniging uitgebrei tot 26 kore met ongeveer 250 koorlede. Koorfeeste is jaarliks in verskillende dorpe gehou. Dit het gewissel van Paarl in die suide tot Springbok en O’kiep in die noorde. Die kore was in 2005 in Eersterust Pretoria waar hulle opgetree het by die 100ste verjaarsdag van die Kerk van the Good Shepherd. Voorts het die Vereniging van Kerkkore en die kore van George Bisdom ’n geskiedkundige mylpaal bereik toe 400 koorlede ’n konsert in George-stadsaal in Oktober 2019 gehou het. Ná 28 jaar is Davids nog steeds aan die stuur van die Vereniging van Kerkkore.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article