Amper die hele Muisbosskerm, die bekende buitelug-restaurant net buite Lambertsbaai op die Weskus, het laasnag (Donderdag 6 Julie) afgebrand.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het bevestig dat bykans 80% van die onderneming afgebrand het. Dit is sowat 4 km suid van Lambertsbaai op die Elandsbaaipad geleë en is ’n gewilde toeristebestemming vir plaaslike sowel as internasionale besoekers.
’n Groot deel van die restaurant het bestaan uit houtskerms om gestand te doen aan sy naam, wat afgelei is van die sogenaamde “Muisbos”, ’n destydse veewagterskuiling tydens die migrasie van vee na weiding en water.
Mense van oral het hul skok op sosiale media uitgespreek oor dié slag vir plaaslike toerisme.
’n Besoek aan die Muisbosskerm het gewoonlik gepaard gegaan met tradisionele Weskusgeregte soos waterblommetjie- en hotnotskoolbredie en tuisgemaakte aartappelgisbrood met botter en Hanepootkorrelkonfyt, óf gebakte, gerookte en geroosterde seekos. Alles bykans óp die strand en in die buitelug.
Die polisie is ook nog besig met die ondersoek na die oorsaak van die brand en die omvang van die skade.
Die eienaar het nog nie gereageer op versoeke van Weslander om kommentaar oor die insident te lewer nie.





