PORTERVILLE/STELLENBOSCH – ‘n 46-jarige vrou van Porterville het die afgelope Donderdag (27 November) omstreeks 07:05 ‘n traumatiese kaping oorleef nadat ‘n man, wat aan haar bekend is, haar voertuig met geweld oorgeneem het. Die voorval het later dieselfde dag in Stellenbosch in ‘n noodlottige botsing geëindig.
Volgens inligting wat aan die polisie verstrek is, het die klaer haar hek oopgemaak om werk toe te ry toe Jaco Mein- tjies (49) aangebied het om die hek weer toe te sluit. Hy het gevra om saam te ry, aangesien hy glo in dieselfde rigting op pad was.
Kort ná hul vertrek het Meintjies op die R44 naby Voorberg ‘n skroewedraaier uitgehaal, dit teen die vrou se nek gedruk en geld geëis. Sy is gedwing om tot in Gouda te ry, waar sy by ‘n OTM moes stop om geld te onttrek. Die vrou het daarin geslaag om uit die voertuig te vlug en omstanders om hulp te vra, waarna Meintjies met haar blou Volkswagen T-Roc weggejaag het.

Volgens Eikestadnuus het hy later twee voetgangers opgelaai en teen ‘n hoë spoed in die rigting van die Paarl weggejaag.
Paarl-polisiebeamptes het hom opgemerk en ‘n hoëspoed-jaagtog het ontstaan. Die twee passasiers het glo paniekerig geraak. Meintjies het gesê hy sou spoed verminder sodat hulle kon uitspring – wat hulle toe gedoen het.
Die jaagtog het via die Agter-Paarl-pad in die rigting van Klapmuts en daarna deur Pniël voortgegaan. Toe Meintjies die Helshoogtepad in Idasvallei bereik, het hy volgens die polisie teen twee ander voertuie gebots. Die gekaapte VW T-Roc het gerol en teen ‘n boom tot stilstand gekom. Meintjies is uit die voertuig geslinger en is later deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
‘n Groot deel van die Helshoogtepad was ure lank gesluit terwyl verkeersbeamptes verkeer herlei en polisielede die toneel gedokumenteer het.
AO Zenobia Sedeman, ‘n polisiewoord- voerder van Cloetesville, het bevestig dat Meintjies ‘n verdagte in die beweerde kaping in Porterville was en vermoedelik steeds aan die vlug was toe die botsing gebeur het.
Die Porterville-polisie ondersoek die voorval verder.







You must be logged in to post a comment.