Nes twee jaar gelede, met die Megaforce Weskus-motorfietsklub se eerste bederfdag vir Huis Wittekruin in Vredenburg, het avontuurlustige inwo- ners weer opgewonde kom toustaan om ‘n draai op die blinkgewaste brulperde te ry.
Op Saterdag 20 September het die mure van die tehuis en leefreghuise gevibreer met die aankoms van die groep motor-
fietse. Inwoners het lekker kom saamgesels om die vure of na die talentvolle Amoré se lekkersaamsing-liedjies in die eetsaal gaan luister.
Die dag was veral vir klublede spesiaal omdat dit ter ere van hul voormalige president, wyle Paul Pretorius (47), gehou is.
Dit was Paul, wat vroeër vanjaar naby Clanwilliam verongeluk het, se groot wens om weer vanjaar die seniors by Huis Wittekruin te bederf. Hy het met die vorige keer, in 2023, dit geniet om inwoners ‘n motorfietsrit om die perseel te gee.
Personeel en inwoners was ewe opgewonde om ten spyte van moeilike knieë en hoë voetvastrapplekkies uiteindelik op die motorfietse te kon sit. Sommige van die oues van dae, maar “jonk van gees”, wou nie valhelms opsit nie, want hulle wou weer “die wind deur hul hare voel”.
Daar is selfs ‘n motorfiets deur die eetsaal gery en op inwoners se aandrang so ‘n bietjie daarmee geraasgemaak.
Klublede het worsbroodjies aan die inwoners voorsien, voordat die klubvroue se kolwyntjies as nagereg gedien het.
Megaforce Weskus het ook ‘n versame- ling persoonlike benodigdhede geskenk.
Karin Delport, Huis Wittekruin-be- stuurder, het haar dankbaarheid teenoor Megaforce Weskus uitgespreek en gesê die besoek beteken ontsettend baie vir die inwoners én die personeel.
Benji Truter, klubpresident, bedank Coastal Parts Vredenburg, Husky’s Restaurant & Bar, Nieuw Services, PnP Ipic-sentrum vir hul bydraes, en ook al die Weskus-motorfietsklubs wat aan Megaforce Weskus se Dice Run-geldin- sameling in Augustus deelgeneem het.









