’n Voormalige polisiesersant en moordbeskuldigde van Piketberg het Dinsdag gehoor hy bly in polisieaanhouding.
Richard Smit, wat uit die polisiediens ontslaan is en daarvan aangekla word dat hy sy vriendin op 2 Januarie vanjaar koelbloedig doodgeskiet het, se uitgerekte borgtogaansoek is vandeesweek in die plaaslike landdroshof van die hand gewys.
Volgens die klagstaat het Smit sy 9 mm-dienspistool gebruik om Natasha Booise in Hoofstraat in Piketberg dood te skiet terwyl sy saam met haar familie gestap het. Nadat Booise geskiet is, het Smit glo agter haar familielede aangery en op hulle ook geskiet.
Die voorval is deur kringtelevisiekameras opgeneem.
Billy Claassen, uitvoerende direkteur van die landelike- en plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie, het gesê die landdros het gevoel nie genoeg buitengewone omstandighede is voor die hof geplaas dat sy dit nodig geag het om Smit op borgtog vry te laat nie.
Die saak is tot 12 September vir ’n hooggeregshofdatum uitgestel.
“Ons verwelkom die uitspraak en dit wys dat die stryd teen gesinsgeweld deur sommige howe in ’n baie ernstige lig gesien word. Ons wil die beskuldigde versoek om verantwoording te aanvaar vir sy vermeende wrede dade en op te hou om die hof se tyd te mors,” het Claassen in ’n persverklaring, wat Dinsdag uitgereik is, gesê.
Lizzy Suping, ’n woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het namens Opod ook die landdros se uitspraak verwelkom.
Benewens die moordklag, staan Smit ook tereg op twee aanklagte van poging tot moord, die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied en die hantering van ’n vuurwapen onder die invloed van ’n bedwelmde middel.





