Die Saldanhabaai-munisipaliteit se junior burgemeester, Sumari Smit.


Die Trotse Weskusser en graad 11-leerder Sumari Smit van die Hoërskool Hopefield is as die nuwe junior burgemeester vir die Saldanhabaai-munisipaliteit se jeugraad aangestel.

Smit sê dit is ’n groot voorreg vir haar en ’n baie opwindende geleentheid, maar sy besef ook die pos kom met groot verantwoordelikheid.

Smit is in graad 10 deur haar skool benoem om in die jeugraad te dien. “Ek kon nie vinnig genoeg ‘ja’ antwoord toe hulle gevra het of ek deel van hierdie proses wil wees nie. Ek het toe ’n jaar lank in die stadsraad gedien,” vertel sy.

“Op een van ons vergaderings het die kandidate hul toesprake gelewer en gemotiveer hoekom hulle ’n goeie kandidaat vir hierdie posisie is. Daarna het ons gestem en ek is gekies.”

Smit sien in haar nuwe posisie daarna uit om ’n verskil te maak en aan die drome en ideale van die jeug in die Weskus te help bou. Sy sien ook daarna uit om saam met ander leiers te werk om die jeug van Saldanhabaai te help en te bemoedig.

“Die pos van junior burgemeester behels om te luister na die behoeftes van die jeug en om daaraan aandag te gee. Dit behels om uit te reik en om te lei deur altyd ’n voorbeeld te stel. Verder gaan dit gepaard met harde werk en ’n wil om die huidige probleme wat die jeug in die gesig staar, te probeer verminder.”

Sy deel met Weslander dat sy wil sien dat ’n stelsel op die been gebring word om dit vir die jeug moontlik te maak om maklik met die jeugraad kontak te maak. “Die jeug kan dan op hierdie platform anoniem sê wat die probleme in hul omgewing is en ons kan dan so weet waaraan ons as die jeugraad eerste aandag moet gee. Dis ook belangrik aangesien die jeug die toekoms van ons land is, en daarom word hul insette benodig.”

Sy moedig die jeug in die Weskus aan om hul beste te gee in alles wat hulle aanpak.

“Eendag sal jy die vrugte daarvan pluk. Wees die persoon wat altyd opbou eerder as om af te breek oral waar jy gaan. Glo in jouself en werk aan jou drome.

“Luister na die raad van ouer mense en leer uit jou foute.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article