Die prentjie wat sy aanskou het, was skokkend en iets wat sy nooit ooit verwag het nie.
Die hele gesig het haar bewoë gelaat, het Andy Warnick gesê nadat sy verlede week op Cheryl Lombard (54) se lewelose liggaam in ‘n huis in Seaview Park, Langebaan, afgekom het. “Die bloed, haar hand en een voet … dis al wat ek van Cheryl gesien uitsteek het.”
Warnick het Lombard, haar susterskind, op Vrydag 7 November uiteindelik in haar huis op die badkamervloer onder hope komberse en klere gekry. Sy het gaan ondersoek instel nadat sy talle oproepe ontvang het dat mense Lombard verlede Woensdag (5 November) die laaste keer gesien en van haar gehoor het.
Warnick het onraad vermoed toe sy hoor dat Lombard vermis word, want volgens haar was dit nie Lombard se aard om haar huis net so te los nie.

Volgens kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het ‘n 22-jarige verdagte op Dinsdag 11 November in die Hopefield-landdroshof verskyn, wat Lombard na bewering herhaaldelik met ‘n mes gesteek het. Hy is verwant aan haar.
“Na bewering was die twee Woensdag verlede week in ‘n rusie betrokke waarop die beskuldigde die oorledene na bewering in die badkamer ingedwing en haar daar met ‘n mes aangeval het.”
‘n Familielid het Lombard se lyk Vrydag ontdek, waarna die 22-jarige op die toneel in hegtenis geneem is. Die polisie het op die moordwapen beslag gelê. Die verdagte het steeds die bebloede klere aangehad wat hy gedra het toe hy die oorledene na bewering aangeval het.
Die skokkende ontdekking het die reeds omgekrapte gemeenskap van Seaviewpark verstom. Volgens Lombard se suster, Joliza van Boven, was haar suster ‘n lieflike mens wat altyd ‘n glimlag op haar gesig gehad het.
“Toe ek op die toneel kom, het ‘n woede by my opgekom, maar ek kan hom nie haat nie. Mense daar buite kyk vir ons en dink die suster is dood, maar daar is steeds liefde vir hom. Dit is nie ‘n knoppie wat ‘n mens kan afskakel nie. Wat hy gedoen het, is nie reg nie, maar die oordeel kom ons nie toe nie.”
Van Boven gee toe die familie het nog ‘n lang pad na genesing, maar hulle gaan nie hul rug op die beskuldigde draai nie.
“Daar is stories wat die ronde doen, maar mense van buite was nie daar nie en weet nie presies wat gebeur het nie.”
Van Boven meen geen haat en blaam teenoor die beskuldigde sal haar suster terugbring nie. Sy glo hy het baie hulp nodig – meer as wat mense besef.
“Hy het veral in hierdie situasie waarin hy hom bevind, sy familie nodig. Met die stories wat loop, moet mense ophou bespiegel, want dit maak die meeste seer. Die hele situasie is ‘n dubbele seer.”
Volgens Warnick het haar susterskind uit liefde altyd ander bo haarself gestel.
Die saak word ondersoek en die beskuldigde het in die Hopefield-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Hy het vir die hof aangedui dat hy nie aansoek om borgtog wil doen nie.
Die saak is tot 29 Januarie uitgestel.






You must be logged in to post a comment.