Misdaadbrokkies van Weskus-polisiedistrik | Crime snippets for West Coast Police District

SAPS badge
SAPS badge

 Die 32-jarige Molefe Molisa is Sondag 8 Mei om 18:30 in ‘n botsing op die N7 in die rigting van Citrusdal oorlede. Volgens die Clanwilliam-polisie was twee voertuie in die voorval betrokke en word ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.

 Drie voertuie was vroeg Vrydag (6 Mei) in ‘n botsing op die N7 naby Clanwilliam betrokke, waarna vier insittendes mediese behandeling moes ontvang.

 In Langebaan het ‘n Zimbabwiese burger Vrydag 6 Mei omstreeks 15:30 teen ‘n paal in Oostewal-

straat vasgery en vier insittendes het ernstige beserings opgedoen. Later het die voertuig waarin hy die volgende dag, Saterdag 7 Mei, in Jon Olaffssonstraat langs die pad beland.

 Twee voertuie het Sondagoggend in Laaiplek teen mekaar vasgery. Een van die voertuie se bestuurders het mediese behandeling ontvang, maar die bestuurder van die ander voertuig het weggehardloop. Die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur.

 Die 18-jarige Hezekia Pietersen van Malmesbury het na bewering vir die polisie gejok oor die fiets wat hy 07:00 die oggend besig was om oor ‘n besige pad te stoot. Pietersen het glo eers vir die polisie gesê sy ma het die fiets vir hom gegee. Later het sy ma egter ontken dat sy vir Pietersen ‘n fiets gegee het. Die polisie het Pietersen deursoek en ‘n mes met ‘n lem van 19 cm by hom gekry.

Diefstalle die afgelope naweek

 ‘n Venster van ‘n gastehuis in die Langebaan-omgewing is die afgelope naweek gebreek en die diefwering is afgesny en sowat R3 000 se linne is gesteel.

 Twee pale van ses meter elk is die afgelope naweek by ‘n plaas in die Citrusdal-omgewing gesteel.

 Koperkabels ter waarde van R2 300 is by ‘n kerkperseel in Darling gesteel.

 Koperpype en -krane is ook by die hospitaal in Porterville as gesteel aangemeld, asook by ‘n skool in Riebeek-Wes. In van die gevalle wat aangemeld is, is net die watermeters gesteel.

 Advokadopere van R12 000 is die naweek van ‘n plaas in die Porterville-omgewing gesteel en ‘n verdere R7 000 se skade is aangerig.

 ‘n 48-jarige ma van Riebeek-Wes het die afgelope naweek vir haar seun geld gegee om ‘n venster te gaan koop. Hy het egter besluit om die geld op drank uit te gee. Sy het die diefstal aangemeld.

 Steeds in Riebeek-Wes het ‘n 62-jarige man wakker geword van sy voertuig se alarm wat afgaan. Toe hy gaan ondersoek instel, het hy agtergekom dat R400 kontant uit die voertuig gesteel is.

 Talle mense is die afgelope naweek in die Weskus-polisiedistrik aangekeer op aanklag van die besit van onwettige ammunisie. In Citrusdal is die 37-jarige David Maskam in hegtenis geneem en die 29-jarige Nkosinathi Valesniya is in Vredenburg met een ronde en dwelms in sy besit betrap. Die 30-jarige Henrich Persens van Wesbank in Malmesbury is Saterdagoggend om 04:00 in Tinktinkiestraat aangekeer en met deursoeking is ‘n enkele ronde ammunisie in sy broeksak gekry.

 Sowat 25 sake van diefstal van pensioengeld is die afgelope week in die Weskus-polisiedistrik aangemeld – agt sake in Darling en die res in St Helenabaai, Vredenburg, Riebeek-Wes en Malmesbury. Dié ondersoeke waar die werknemers se pensioenaftrekkings nie korrek bestuur is nie, duur voort.

• Weslander stel elke week ‘n oorsig oor die voorafgaande week se misdaadgebeure in die Weskus-polisiedistrik met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article