• ‘n 39-jarige man van Ongegund is na die Groote Schuur-hospitaal vir krtieke behandeling nadat ‘n onbekende man vyf skote na hom afgevuur en hom getref het.
Na bewering was die onbekende man by die klaer se winkel en het vir R3 000 gevra. Die man het die afgelope Donderdagoggend om 01:45 teruggegaan na die winkel en die klaer geroep en R1 500 van hom geëis.
Die klaer het geantwoord dat hy eers sy werkgewer moet bel, waarop die man skote op hom begin afvuur het. ‘n Klagte van poging tot moord word deur die Vredenburg-polisie ondersoek.
• Die 29-jarige Justin Klaasen is Saterdagoggend op die N7-deurpad naby die Sandfontein-afdraai in die omgewing van Eendekuil in ‘n trompop-botsing oorlede. Die ongeluk het omstreeks 05:50 gebeur toe twee voertuie reg van voor teen mekaar gebots het. Vier ander passasiers, onder wie een vrou, het beserings opgedoen. ‘n Klagte van strafbare manslag word deur die Eendekuil-polisie ondersoek.
• ‘n 23-Jarige man is Sondagaand omstreeks 21:50 in sy linkerknie gewond. ‘n Onbekende man het die winkel in Ericastraat in Laingville binnegegaan en drie skote op die klaer afgevuur voordat hy gevlug het. Die klaer het mediese behandeling ontvang. ‘n Klagte van poging tot moord word deur die
St. Helenabaai-polisie ondersoek.
• Die afgelope Sondagoggend, omstreeks 04:50, het drie mans die 34-jarige klaer van Zimbabwe en sy vrou genader terwyl hulle in hul voertuig in Tugelastraat in Witteklip gesit het. Een van die verdagtes het die klaer aangesê om bier te koop, waarop die klaer geantwoord het dat hy nie geld het vir bier nie. Een van die verdagtes het skielik ‘n petrolbom na die voertuig gegooi en die klaer het brandwonde opgedoen, waarvoor hy later mediese hulp ontvang het. Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n klagte van poging tot moord.
• ‘n Vrou (43) is Donderdagmiddag in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat sy dwelms by ‘n perseel in Riverview, Citrusdal, verkoop. Sy sou Maandag in die plaaslike hof op aanklag van handel in dwelms verskyn.
• ‘n 41-Jarige man is Sondagaand by sy woning in Porterville vir die besit van ‘n nagemaakte vuurwapen in hegtenis geneem. Hy het Maandag in die hof verskyn.
Die 23-jarige Boyky Simataa is Maandagoggend met twee meswonde aan sy bors op ‘n plaas in die Koekenaap-gebied gevind. Sy aanvallers het op die vlug geslaan. Ná bewering het die aanvallers tamatie-kratte op ‘n vragmotor gepak. Simataa het hulle meegedeel dat die kratte eers getel moes word. ‘n Stryery het ontstaan en Simataa is eers met ‘n krat tamaties gegooi voordat ‘n aanvaller hom met ‘n mes gesteek het. Die moordsaak wat deur die Lutzville-polisie ondersoek word, duur voort.
• ‘n 36-jarige verdagte is Saterdagoggend in Whippingstraat in Hopland, Saldanha, vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekeer. Hy het Maandag in die hof verskyn.
• Nog ‘n verdagte (37) is Sondagoggend in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie – dié keer in Laaiplek. ‘n Wenk het tot sy inhegtenisneming gelei. Die vuurwapen en ammunisie was in ‘n swartsak versteek. Hy het Maandag in die hof verskyn.
• ‘n 51-jarige man van Vredenburg is op 30 Januarie so erg aangerand dat hy eers op 18 Maart uit die Groote Schuur-hospitaal ontslaan is. Na bewering het hy en sy aanvaller ooreengekom dat hy die gereedskap wat hy verloor het, sal vervang. Daardie aand het sy aanvaller, sy kamermaat, hom egter met ‘n hamer oor die kop geslaan, hom vasgebind en aan die brand gesteek. Die bure het die klaer te hulp gesnel en vandaar het hy mediese behandeling ontvang. Die aanvaller word nog gesoek. Die polisie ondersoek nog die klag van poging tot moord.


