Weslander verskaf weekliks ‘n kort oorsig van die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei-dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Clanwilliam – Die 29-jarige Abonga Mdladlamba het homself op Saterdag 7 Februarie) by die polisie oorgegee nadat hy glo die 26-jarige Ntlahla Vinqisshe met ‘n mes aangeval het. Vinqisshe is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Hy het steekwonde aan sy kop, lip en linkerarm opgedoen. Mdladlamba het Dinsdag in die hof verskyn. ‘n Saak van moord is geopen.
Moorreesburg – Die 18-jarige Cowen-Lee Louw is op Saterdag 7 Februarie net ná 21:00 in Palmboomstraat, Fairview, deur twee mans oorval. Een het hom op die lip met ‘n mes gesteek en die ander het hom twee keer in die rug gesteek. Peter Saulus en Maxwill Mentoor het in die hof verskyn.
Klawer – Percival Stevens (24), Lionel Karools (18) en Rume Linnert (19) het in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord ná ‘n voorval op Sondag 8 Februarie om 01:45 in Barry Hill. Die klaer, ‘n 20-jarige man, was glo op pad huis toe toe die drie hom aangeval en nege keer met ‘n mes gesteek het. In vorige sake is Karools reeds skuldig bevind aan huisbraak en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Stevens is in Maart 2022 van die moord op ‘n 30-jarige man aangekla. Dié saak duur steeds voort. ‘n Saak van poging tot moord word in die jongste voorval ondersoek.
Klawer – ‘n 32-jarige vrou is glo op Sondag 8 Februarie deur haar kêrel met ‘n gebreekte bottel in die wang gesteek.
Malmesbury – Twee verdagtes – elk gewapen met ‘n vuurwapen – het op Vrydagaand 6 Februarie ‘n skoot elk op ‘n 18-jarige jong man in Kalbaskraal afgevuur. Niemand is beseer nie. ‘n Poging-tot-moord-dossier is geopen.
Malmesbury – Twee skote is op Sondag 8 Februarie in Hopefieldstraat, Chatsworth, op ‘n 34-jarige vrou afgevuur. Die slagoffer is nie getref nie.
Citrusdal – Levi van den Heever van Diazville, Saldanha, is op Donderdagaand 5 Februarie in die Clanwilliam-hospitaal oorlede nadat hy glo voor ‘n voertuig op die N7, sowat 20 km van Citrusdal, ingeloop het. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Redelinghuys – Martha Maarman (50) is verlede Saterdag (7 Februarie) op ‘n plaas in die omgewing in hegtenis geneem vir oproerige gedrag en die besit van ‘n gevaarlike wapen nadat sy glo ‘n man, wat uit haar huis gevlug het, met ‘n mes gejaag het. Haar eerste hofverskyning was Maandag 10 Februarie.



