Weslander verskaf ‘n blik op die misdaadgebeure gedurende die feestyd in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie.
MOORDE
. Die liggaam van ‘n onbekende man is op Woensdag 17 Desember om 02:58 in Uraanstraat, Ongegund, Vredenburg, aangetref. Die man het swart jeans gedra, sy gesig was geswel en hy het ‘n meswond aan die bors gehad.
. Op Donderdag 18 Desember om 23:30 is die 26-jarige Sibulele Mabaso van Ongegund, Vredenburg, met ‘n skietwond aangetref.
. Piet Strauss (59) van Lambertsbaai is op Donderdag 24 Desember om 10:00 na bewering deur sy vrou met ‘n mes in die nek gesteek. Strauss is op die toneel op die Wadrift-plaas oorlede. Sy vrou, Sara Strauss (65), het op Dinsdag 29 Desember in die landdroshof verskyn en die saak is tot 16 Februarie uitgestel.
. Fernel Oppelt (28) het op Sondag 28 Desember om 17:40 sy 32-jarige broer, Wiaan Oppelt, met ‘n mes in die rug gesteek. Wiaan is op die toneel in 4de Laan, Darling, oorlede. Fernel het op Dinsdag 30 Desember in die landdroshof verskyn.
. Op Sondag 4 Januarie om 22:00 is Phumelele Nompomza (30) tussen Dobertjie- en Elsiestrate in Vredenburg met ‘n mes gesteek. Hy het veelvuldige wonde gehad en is onderweg na die hospitaal oorlede.
POGING TOT MOORD
. ‘n 20-jarige man van Laingville, St. Helenabaai, is op Donderdag 18 Desember om 19:30 in sy middel in Abdolstraat gewond.
. Op Donderdag 18 Desember om 13:00 is ‘n 14-jarige meisie en ‘n 17-jarige seun, wat meswonde gehad het, behandel nadat ‘n onbekende man hulle in Hillstraat, Vredenburg, agtervolg en aangeval het.
. Op Dinsdag 30 Desember om 23:00 het ‘n wit voertuig ‘n 45-jarige man en ‘n ooggetuie, wat op ‘n motorfiets gery het, in Vredenburg ‘n paar keer met die voertuig voorgekeer en hulle gestamp. ‘n Klagte van poging tot moord word ondersoek.
. Op Vrydag 2 Januarie is ‘n 21-jarige man in Malconstraat, Louwville, Vredenburg, met ‘n houtpaal aangerand. Hy het beserings aan die gesig en kop opgedoen.
. ‘n 17-jarige seun is Maandag (12 Januarie) in Lutzville in hegtenis geneem nadat hy die oggend glo sy 12-jarige sussie en haar vriendin met ‘n mes gedreig het. Hulle het hulle in ‘n kamer toegesluit totdat die polisie opgedaag het. Hul ma was ten tyde van die voorval by die werk en hul oupa, wat in ‘n rolstoel is, was by die huis. Die seun het die volgende dag in die hof verskyn.
STRAFBARE MANSLAG
. Die lewelose liggaam van Joao Zacarias (44), ‘n Mosambiekse burger, is op Maandag 15 Desember om 10:10 in Oostewalstraat in Langebaan aangetref. Die saak word ondersoek.
. ‘n Onbekende man is op Nuwejaarsdag om 18:55 op die R399-Piketbergpad dood nadat hy na bewering deur ‘n vragmotor getref is.
. Marie Visagie (41) is op Vrydag 2 Januarie in die Rabie Kotze-hospitaal oorlede nadat sy vroeër die aand deur op die R399 naby Piketberg ‘n taxi raakgery is.
HUISROOF EN GEWAPENDE ROOF
. Die Lutzville-polisie ondersoek ‘n huisrooftog nadat twee meisies van 15 en 16 jaar oud op Saterdag 3 Januarie om 16:30 ‘n 77-jarige man vir water gevra het.
Nadat hy hulle gehelp het, het die meisies en ‘n man wat aan hom bekend is, sy huis binnegestorm en hom beroof.
Die meisies sal Dinsdag 27 Januarie in die landdroshof verskyn.
OPSETLIKE SAAKBESKADIGING EN GEWELD
. Mario Snyders (31) het op Woensdag 17 Desember om 13:00 in Kerkstraat amok gemaak deur voertuigvensters met ‘n harde voorwerp stukkend te slaan. Hy het op Vrydag 19 Desember in die landdroshof verskyn.
. Jade October (18) is op Vrydag 19 Desember om 17:45 in Darling agtervolg en het deur ‘n venster van ‘n kostrok geglip.
Hy het die trok, ‘n vrieskas, batterye en kos met ‘n panga en klippe beskadig. Sy eerste verskyning in die landdroshof was op Maandag 22 Desember.
. Juanay Khunyana (18) het op Dinsdag 30 Desember in die Darling-landdroshof verskyn nadat sy op Kersdag om 03:30 ‘n polisievoertuig se ruit gebreek het.
. Vakansiegangers van Mpumalanga het op Donderdag 18 Desember ‘n 68-jarige man van Laaiplek aangerand nadat ‘n jong vakansieganger met ‘n vierwielmotorfiets in die straat amok gemaak het.
. ‘n 30-jarige vrou sal eersdaags in die Lutzville-landdroshof verskyn nadat sy op 7 Januarie haar agtjarige dogtertjie met ‘n koffiekan teen die kop gegooi en ‘n gapende wond veroorsaak het.
DIEFSTAL UIT VOERTUIE EN WONINGS
. ‘n Vakansieganger van Kaapstad beweer dat geld, selfone, ‘n skootrekenaar en ander items ter waarde van sowat R95 400 op Donderdag 18 Desember uit haar voertuig se bagasiebak gesteel is terwyl sy by die strand in Langebaan was.
. ‘n Rekenaar en toerusting ter waarde van ongeveer R146 000 is Sondag 28 Desember uit ‘n woning in Langebaan gesteel nadat die deur bloot oopgemaak is.
. ‘n Man in Langebaan het Maandag 22 Desember ‘n fiets ter waarde van R10 000 gesteel nadat hy eers toestemming gevra het om dit te ry en toe sy kans gewaag en weggery het.
BEDROG EN KUBERMISDAAD
. ‘n 67-jarige vrou van St. Helenabaai het Woensdag 17 Desember R57 000 verloor nadat sy haar bankbesonderhede aan ‘n sogenaamde bankamptenaar gegee het.
. Nog ‘n 67-jarige inwoner van St. Helenabaai is Donderdag 18 Desember deur WhatsApp-boodskappe bedrieg en het R5 700 verloor.
. ‘n Senior inwoner van St. Helenabaai het op Vrydag 19 Desember R28 000 verloor nadat sy deur ‘n “bedrog-spesialis” genader is.
. ‘n 73-jarige vrou van Vredenburg het op Maandag 22 Desember R16 264 verloor nadat sy mislei is deur ‘n oproep van ‘n sogenaamde aanlyn klere-agentskap.
. In Laaiplek het ‘n 73-jarige man op Dinsdag 23 Desember bykans R47 000 aan sogenaamde doeanefooie betaal.
.Gedurende die feestyd is verskeie klaers op verskillende dae tussen 15 Desember en 12 Januarie bedrieg deur ‘n slenter waar R15,99 aan ‘n vals koeriermaatskappy betaal moes word.
WINKELDIEFSTAL
. ‘n 31-jarige man van Vredenburg het Saterdag 20 Desember probeer om klere ter waarde van R2 000 tussen sy bene te versteek.
LANDBOU- EN PLAASDIEFSTAL
. Kinders van Porterville het op Donderdag 18 Desember 14 waatlemoene op ‘n plaas gesteel en beskadig.
. Peter Kok (25) en Adwin Carolus (18) is Saterdag 20 Desember om 22:22 op ‘n plaas in die Porterville-omgewing betrap terwyl hulle waatlemoene gesteel en beskadig het.
Hulle het op Maandag 22 Desember in die landdroshof verskyn.
. Johannes Beukes (55) van Lutzville is op Maandag 22 Desember betrap toe hy ses spanspekke gesteel het.



