In Elandsbaai is ’n 62-jarige man Saterdag (23 Maart) met ’n bottel gegooi omdat hy die bure gaan vra het om die musiek ’n bietjie sagter te sit.
Twee aanrandingklagtes is ook dié naweek in Redelinghuys aangemeld waar ’n 21-jarige man en ’n 20-jarige vrou Sondag 24 Maart in die vroeë oggendure in afsonderlike voorvalle deur dieselfde aanvaller aangerand is. Drie aanvallers, onder meer gewapen met ’n graaf, het ’n 37-jarige man ook Sondag om 09:00 in Olofbergstraat in Redelinghuys aangeval.
’n Man van Eendekuil was Vrydagaand (22 Maart) besig om ’n paar goed te koop toe ’n 51-jarige man die 42-jarige klaer aangesê het om vir hom ook? paar goed te koop. Die klaer het geweier, waarop die man die klaer se hond geskop en die klaer gegryp en hom op die grond gegooi en in die gesig geskop het. Die aanvaller is in hegtenis geneem.
Twee vroue van Eendekuil, 33 en 26 jaar oud, is in hegtenis geneem nadat hulle Saterdagaand (23 Maart) glo ’n 24-jarige vrou wat by haar vriendin gaan kuier het, geskop en geslaan het.
Die Laaiplek-polisie het Sondag (24 Maart) ’n 43-jarige man in hegtenis geneem nadat hy glo ’n 61-jarige man, aan wie hy na bewering vroeër vis verkoop het, by ’n vakansieoord in Laaiplek aangerand het.
In Lutzville is ’n 40-jarige vrou aangekeer nadat sy laat die middag op Vrydag 22 Maart ’n 24-jarige vrou wat besig was met inkopies, aangerand het.
’n Piketbergse man van 21 jaar is Sondagoggend (24 Maart) in hegtenis geneem nadat hy om 01:40 ’n 19-jarige man met ’n bierbottel aangerand het.
Die pa van ’n 12-jarige seun het ’n klagte van aanranding in Riebeek-Wes aangemeld nadat ’n 23-jarige man die seun glo Vrydagaand (22 Maart) rondgeruk het.
In Vredenburg is ’n 25-jarige man Vrydagmiddag (22 Maart) deur sy eksvrou aangerand en sy het hom ook met ’n mes gesteek. Die vrou is in hegtenis geneem.
Vroeër die maand, op Sondag 17 Maart, het ’n 38-jarige man van Malmesbury na ’n vrou se woning gegaan nadat hy haar op sosiale media ontmoet het. Hy het sy selfoon by hom gehad en het later agtergekom dat sy selfoon weg is. Toe hy navraag daaroor doen, is hy met ’n skêr aangeval. Sy 45-jarige aanvaller is in hegtenis geneem.
Twee klagtes van poging tot moord is in Saldanha aangemeld. Die eerste voorval was Vrydag (22 Maart) omstreeks 21:20 in Shamrockstraat. Twee vermeende skieters het ’n 15-jarige seun geroep en toe hy na hulle draai, het hulle twee skote op hom afgevuur, maar gemis. In die tweede voorval Saterdag (23 Maart) om 14:05 het twee mans in Biskopstraat gestaan en stry. Die een man het die klaer, ’n 37-jarige man, met ’n vuurwapen gedreig, waarop die klaer agter om ’n voertuig gehardloop het om daaragter te skuil vir sy eie veiligheid. Die verdagte het skote na die klaer afgevuur. Die klaer is nie beseer nie, maar die skade aan die voertuig beloop ongeveer R14 000.



