Daniel Johannes Shawe (51) het op Donderdag 14 September in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn. Hy het na bewering in 2014 geld by ’n familielid op Saldanha gesteel. Shawe het glo die klaer se bankkaart gevat en R4 000 gaan trek. Hy is luidens ’n lasbrief vir inhegtenisneming in Johannesburg aangekeer. Die saak is tot 22 September uitgestel.

• Onbekende aanvallers het ’n egpaar van Rawsonville, ’n 66-jarige man en sy 63-jarige vrou, Donderdagoggend 14 September om 01:30 by ’n vakansie-verblyfplek in Yzerfontein oorval. Die klaer is met ’n voorwerp geslaan, maar sy vrou het daarin geslaag om na hulp te gaan soek. Die aanvallers het met die egpaar se voertuigsleutel en ’n slimfoon gevlug.

Die Darling-polisie ondersoek die saak.

• ’n 17-jarige seun van Eendekuil, wat ’n 19-jarige man op Sondagaand 17 September omstreeks 19:50 glo herhaaldelik met ’n mes gesteek het, is in hegtenis geneem. Die slagoffer het meswonde aan sy linkerskouer, linkerkant van sy rug en linkerbors opgedoen. Die beskuldigde het Maandag in die Piketberg-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

• Op Saterdag 16 September omstreeks 17:20 het ’n 16-jarige seun en sy 18-jarige vriend ’n 58-jarige man van Darling met ’n vuurwapen gedreig en hom van selfone beroof. Die twee beskuldigdes het Dinsdag in die landdroshof in Malmesbury op aanklag van gewapende roof verskyn.

• ’n Moordsaak word ondersoek nadat Elrico Swarts (30) op Vrydagaand 15 September op Riebeek-Wes om 19:30 in die bobeen met ’n mes gesteek is en Swarts op die toneel aan sy wond beswyk het. Andries Marthinus (44) is vir die moord aangekeer en het Maandag in die Wellington-landdroshof verskyn.

• Die Citrusdal-polisie het op Sondagaand 17 September om 21:50 gereageer op ’n oproep oor ’n messtekery op die plaas Bergendal. Met die polisie se aankoms op die toneel is Phumlani Fatuse (36) met meswonde aan sy kop en nek gekry. Hy is op die toneel oorlede. Nkosikho Misaldo (38) is vir die moord aangekeer en het Dinsdag in die Citrusdal-landdroshof verskyn.

• Die liggaam van ’n 25-jarige man wat verskeie kere in die kop geskiet is, is op Vrydagaand 15 September om 23:30 in Myrtlelaan, Wesbank, gevind. Die oorledene het weens die kopwonde op die toneel gesterf.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article