Sihle Zikalala, die nasionale minister van openbare werke en infrastruktuur, Donderdag aan die woord op ’n vergadering met rolspelers by Sea Harvest in Saldanha oor planne vir die plaaslike hawe. Foto: Yaël Malgas


Beleggings van miljoene rande gaan steeds voort by hawens, het die betrokke minister, Sihle Zikalala, Donderdag (4 Mei) verduidelik.

Zikalala, die nasionale minister van openbare werke en infrastruktuur, het die Saldanha-hawe verlede week as deel van ’n Kaapse draai besoek. Die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur is besig met ’n program van R501 miljoen om 13 Wes-Kaapse hawens op te knap. Dit sluit in herstelwerk aan skeepshellings, veiligheidsvereistes en baggerwerk.

“Wanneer jy begin om die infrastruktuur te bou, moet verskeie dinge in ag geneem word. Dit sal ’n probleem wees om die infrastruktuur weer agteruit te laat gaan. Die herstel van die hawehoof moet ’n prioriteit vir die departement wees en om saam met julle te werk, is belangrik. Ons sal met spoed moet werk,” het Zikalala aangevoer.

Zikalala en sy departementshoof het die plaaslike hawe saam met sakelui, direkteurs van Sea Harvest, gemeenskapsleiers en die Saldanhabaai-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, André Truter, besoek.

Langtermynhuurkontrakte vir infrastruktuur by hawens was onder meer ’n besprekingspunt met die minister wat gebieg het dit is moeiliker om langtermynbelegging aan te wakker wanneer huurkontrakte maand tot maand hernu moet word. Zikalala meen dit is ook belangrik om kleiner, plaaslike ondernemings by maatskappye betrokke te kry om die hele waardeketting aan te help en ekonomiese groei op grondvlak te kry.

Beurtkrag was ook op die sakelys. Die minister sê die departement kyk na planne om hul geboue van nou af met alternatiewe kragbronne reeds ingerig te bou.

Truter sê hy is optimisties oor die minister se praatjie.

“Die geskiedenis bewys ek moenie altyd optimisties wees nie, maar ek is van nature so. Die nasionale regering maak gereeld beloftes en dan sien ons hulle nie weer nie, maar die minister blyk opreg te wees.”

Truter sê hy wil werk maak om te verseker die plaaslike regering is in beheer van die hawe sodat plaaslike gebruikers – veral kleinskaalse vissers – die voordeel van die hawe kan geniet.

’n Gebrek aan kommunikasie was van die klagtes van belanghebbendes wat meen nasionale departemente moet meer doen om meer toeganklik vir plaaslike gemeenskappe te wees.

Truter het gesê net toe hy ná 18 maande se gesukkel ’n vergadering met die minister kon maak, is Zikalala aangestel, maar hy meen dit is goed dat die minister die Weskus self besoek.

Zharon Damonds van Aqua Gold sê sy sien uit na die ontwikkeling wat kom. “Ons is aan die beweeg en ons gaan dit laat werk,” meen sy.

Die minister het sy besoek in Houtbaai afgesluit, waar hy aangevoer het: “Hierdie opgraderings is ’n duidelike verbintenis om hawe-doeltreffendheid te verseker en die ekonomiese toekoms van ons land te waarborg.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article