Om deel te kan wees van Mevrou Suid-Afrika 2026 is vir Mariëtte Vorster ‘n belewenis.
Dié Langebaan-inwoner meen dit was ‘n droom om deel te wees van hierdie platform en sy geniet die susterskap terdeë, asook die manier waarop ‘n mens in die proses groei.
Vorster is een van die semi-finaliste en sê die aankondiging was vir haar ‘n “volle oomblik”.
“Dit verteenwoordig die moed om te- rug te keer, die dissipline om te groei, en die eer om die moderne Suid-Afrikaanse vrou te verteenwoordig op ‘n platform wat substansie bo alles anders vier. Een van my grootste hoogtepunt sover in die reis is om te sien hoe ongelooflik my gemeenskap agter my staan en my in hierdie kompetisie ondersteun. Dit het my opnuut laat besef hoe belangrik ‘n mens se gemeenskap en jou netwerk vir jou is.”
Volgens Vorster het die kompetisie haar reeds so baie geleer. Wat haar persoonlik die meeste geraak het, is die voortdurende groei.
“Ek streef daarna om elke dag ‘n beter weergawe van myself te wees . . . Wanneer ek voel my krag raak min, ervaar ek hoe daar nuwe krag van bo kom, en dit is presies waar die innerlike groei plaasvind. Om self-twyfel te oorwin en te besef dat jy ‘n uitdaging suksesvol kan aanpak, is ‘n ongelooflike bevredigende gevoel.”
Op die reis van Mev. Suid-Afrika sê Vorster haar grootste ondersteuners is definitief haar man, haar ouers en haar beste vriendin.
“Hulle staan bankvas agter my met elke stap van die proses. Ek onthou nog toe ek my man gevra het of ek dit moet doen. Sy antwoord was dat ek dit 100% moet doen en dat ek bo sal uitkom. Dit het my opnuut laat besef hoe lief hy my het en dat hy net die beste vir my wil hê.”
Sou sy as Mev. Suid-Afrika 2026 gekroon word, is daar baie wat Vorster in haar gemeenskap wil doen.
“Een van my hartsprojekte is om jong dames te help deur vir hulle lewensvaardighede aan te leer; ek wil dit die ‘BMS (Body, Mind and Soul) Super Girls’ noem. Verder wil ek ‘n werkswinkel vir vroue begin waar ons mekaar kan ondersteun en opbou, sodat ons as ‘n verenig- de gemeenskap van die Weskus kan groei. Deur my eie ervarings en dit wat oor my pad gekom het, wil ek graag die stem van hoop wees wat mense laat besef dat ‘n moeilike tydperk nie die einde van die pad is nie.
“Soms verloop dinge nie volgens ons planne nie, maar ek wil hê elke persoon moet weet dat daar ‘n beter pad voorlê. Dikwels is dit net ‘n herleiding van God om vir jou ‘n mooier toekoms te gee as wat jy self kon droom.”





