’n Proses van duisende jare het Saldanhabaai gevorm, maar niks het so ’n drastiese uitwerking op die Baai gehad soos ontwikkeling nie.
Tydens die jaarlikse State of the Bay het prof. Jacques Bezuidenhout, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, meer vertel oor die geografie van Saldanhabaai en die Langebaan-strandmeer.
“Saldanhabaai en die Langebaan-strandmeer is uniek. Saldanha is die grootste [natuurlike] hawe in Afrika en die hawe het tydens die Tweede Wêreldoorlog regtig tot stand gekom,” verduidelik Bezuidenhout.
Saldanhabaai was toe ’n bymekaarkompunt vir konvooie voordat hulle na Brittanje gevaar het.
Die weermag het dus die eerste menslike ontwikkeling van die Baai bewerkstellig toe vars water van die Bergrivier af hierheen gepomp is.
Hoewel die meeste baaie in die Wes-Kaap uit sedimentêre gesteentes bestaan, is Saldanhabaai die uitsondering. Hier is die Baai se gesteentes uit graniet gevorm, en dit is deel van die Kaapse granietgesteente.
Die bekende klip agter Weskus Mall, wat in die volksmond die Jesus-klip genoem word, is ’n voorbeeld van die granietgesteentes, sê Bezuidenhout.
Wind en water in die vorm van golwe het Saldanhabaai en die omliggende omgewing oor duisende jare gevorm.
Ontwikkeling het ook ’n invloed op die geografie van die Baai, met die bou van die hawe wat ’n groot impak op die omgewing in die gebied gehad het.
“Die meeste van die vulgrond wat gebruik is om die hawe te bou, is deur middel van baggerwerk bekom. Volgens hul beplanning sou dit ’n jaar neem om die breekwater te bou, maar dit was te optimisties. Dit het hulle twee en ’n half jaar geneem,” verduidelik hy.
Dit het soveel langer geneem deels weens die kalkreet wat so hard soos sement was en bouwerk bemoeilik het.
Bouwerk is uiteindelik in September 1976 voltooi.
Oor die jare het die veeldoelige terminaal en die gebruik van die gebied vir die laai van ru-olie gevolg.
Bezuidenhout verduidelik weens die baggerwerk, waar sediment van een deel van die Baai na ’n ander deel verskuif is, het die natuurlike proses in die baai verander.
“Wat ons gevind het, is dat die diepte van die baai vanaf 1977 tot 2021 met gemiddeld 1,8 m toegeneem het. Dit is weens die kalkreet-vlak wat verwyder word. Dit is soos om die emalje van jou tande af te haal. ’n Proses wat oor duisende jare sou plaasvind, vind nou binne die bestek van vyf of tien jaar plaas,” verduidelik hy.
Die helling van die baai het ook verander en Bezuidenhout sê dit speel ook ’n rol in erosie in die gebied. Hy sê dis belangrik om die veranderinge aan Saldanhabaai vir enige toekomstige ontwikkeling in gedagte te hou.





