Het jy al gewonder watter visspesies alles in die Langebaan-strandmeer voorkom?
Navorsers het die afgelope vier jaar ’n “nuwe” manier gevind om vas te stel watter diertjies in die strandmeer voorkom.
Dr. Alison Kock en Sisanda Mayekiso het onlangs ’n voorlegging by die jaarlikse State of the Bay gedoen en meer vertel oor hul navorsingsprojek “Langebaan Lagoon of film”.
Die navorsingsprojek is gedoen deur die Kaapse navorsingsentrum, wetenskaplikes van die Weskus Nasionale Park, veldwagters, SANparke en omgewingskontroleerders.
Kock en die span se navorsing behels die versameling van videomateriaal in die strandmeer, om só die verskeie visspesies wat daar voorkom, te identifiseer en tel.
“Ek werk oor ’n groot gebied – van Namakwaland tot Agulhas – en die invloed van menslike aktiwiteit op die omgewing kan gewis gesien word. Daar is verskeie plekke waar die omgewing ly en nie meer gesond is nie,” verduidelik Kock.
Sy meen daarom is die strandmeer ’n spesiale gebied omdat daar gestreef word om ’n balans tussen die omgewing en menslike aktiwiteit te vind.
Die navorsers neem hul video’s op met ’n kamera wat aan die een kant van ’n raam van metaal geheg is. Aan die ander kant is ’n houer met sardyne in, wat visse na die raam lok. Die onderwaterkamera word vir ’n uur gelos. Die span het sedert Februarie 2019 hul kamera 130 keer in die strandmeer se beskermde bewaringsgebied geplaas.
Navorsers bestudeer dan die beeldmateriaal. Dié metode van dataversameling word ook by Robbeneiland en in die Tafelberg Nasionale Park gebruik.
Die visspesies wat die algemeenste voorgekom, is stompneus, steentjies, spierinkie en superklipvis.
Verskeie haaie, waaronder die bedreigde hondhaai, kan ook op die beeldmateriaal gesien word.
Mayekiso is die navorser wat spesifiek die beeldmateriaal bestudeer en sy sê die strandmeer is ’n belangrike broeiplek en teeldam vir talle visspesies. Sy sê die eienskappe van die onderskeie sones, die ontspanningsaktiwiteite daar en die seisoen speel alles ’n rol in die vis-getalle.
“Ons het in 2020 ’n oorvloed steentjies en stompneus waargeneem as gevolg van die Covid-19-inperking. Ons is gelukkig met die resultate, want dit stem ooreen met die bevinding van 2020 en 2021 se State of the Bay, toe meer visspesies waargeneem is in die tyd waar minder menslike aktiwiteite plaasgevind het.”
Die span navorsers beoog om aan te hou met hul video-navorsing en uit te brei na Schaapen-, Malgas-, Markus- en Jutten-eilande. Die kamerastelsel sal ook opgradeer word.. Die volle State of the Bay kan op die Saldanhabaai-waterkwaliteitsforumtrust se YouTube-kanaal gevind word.





