Voltaire, ‘n agtiende eeuse Franse skrywer, het in sy boek Candide ‘n karakter geskep wat daarop aandring dat alles wat met ‘n mens gebeur – maak nie saak hoe verskriklik nie, ten goede is. Pangloss is Candide se mentor.
Aan die einde van die boek, nadat Candide deurlopend absurde rampe deurgemaak het, verwerp hy Pangloss se blinde optimisme en sluit af met die gevolgtrekking dat elkeen verantwoordelik is om op die plek waar ons ons bevind, op die aanbring van verbeteringe te fokus.
Waar jy jou bevind, het grootliks te make met die keuses wat jy vooraf gemaak het, soms vinnige, onderdagte besluite; ander kere ná ‘n lang getob.
Waar jy jou bevind, is die slotsom van jou keuses, maak nie saak waar jy grootgeword het of wie jou ouers is nie.
Niemand kon hulle komvandaan kies nie, maar elkeen kan daagliks, minuut tot minuut, kies hoe om te reageer.
Die eerste knieruk-reaksie, soos baie in die weeklikse misdaadbrokkies in Weslander gesien kan word, is gewoonlik die uiteinde van impulsiewe optredes.
As iemand jou kwaad of seer maak, hang dit van jou af of jy die “vuil lap” wat na jou kant toe gegooi is, optel. Gee liewer ‘n denkbeeldige tree terug en besluit oor die rol wat die lapgooier in jou lewe beklee. Is hulle regtig belangrik genoeg om jóú toekoms voor op te mors?




