Die Wes-Kaap beleef tans ‘n uitgerekte en intense veldbrandseisoen, wat aan munisipaliteite, inwoners en besoekers uitdagings bied. Verskeie Weskus-dorpe, insluitend Elandsbaai, Lambertsbaai, Velddrif, Paternoster en Vredenburg, word besonder hard getref.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Dinsdag (13 Januarie) senior amptenare ontmoet om op hoogte te wees van die situasie, met die verwagte warm en droë somermaande wat nog voorlê.
Volgens Bredell het die provinsie dubbel die getal lugbrandbestrydingsoproepe goedgekeur, in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.
Tot nou is R15 miljoen aan lugbrandbestryding bestee en bykomende finansiering kan beskikbaar gestel word indien nodig.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aangedui die somermaande sal warm en droog bly, wat die brandseisoen moontlik tot ná Maart kan verleng.
Die jongste inligting van die provinsiale branddiens toon dat 38 lugondersteunings-missies deur die provinsiale rampbestuursentrum gemagtig is, sowat 90 000 ha tot dusver afgebrand het en 45 strukture vernietig is.
Geen sterftes of ernstige beserings is aangemeld nie.
Watersekuriteit bly ‘n groot bekommernis, veral vir munisipaliteite soos Langeberg, Bitou en Knysna in die Tuinroete-distrik.
Munisipaliteite stel verskeie maatreëls in om toevoer te verbeter, insluitend die opgradering van pompstasies, aansluiting van boorgate en fonteine en die aktivering van ontsoutingsaanlegte waar nodig. In uiterste gevalle kan waterbeperkings in sekere gebiede ingestel word en noodwatertenkwaens is gereed om in te gryp.
Bredell het inwoners en besoekers aangemoedig om aan huidige waterbeperkings te voldoen en die voorskrifte ernstig na te kom.
Luke Folb van Cape- Nature doen ‘n beroep op die gemeenskap om verantwoordelik op te tree wanneer hulle wild raakloop wat deur brande geraak is.
Die Weskusfynbos is natuurlik aangepas by vuur en brande vervul ‘n noodsaaklike rol in die vernuwing van plantegroei. Baie dierspesies het oorlewingsmeganismes ontwikkel, maar brande kan diere tydelik ontwrig, verwar of verswak.
CapeNature beklemtoon dat wild nie aangeraak, gevoer, gevang of verwyder mag word nie, aangesien selfs goedbedoelde optrede stres, beserings of die dood kan veroorsaak. Slegs opgeleide en gemagtigde mense met die nodige permitte mag wild hanteer of rehabiliteer.
As jy brandgeraakte wild raakloop, hou ‘n veilige afstand, moenie inmeng en die dier voer of verskuif nie, tensy dit in onmiddellike gevaar is. Neem die ligging en beserings waar en meld die voorval onmiddellik aan by CapeNature of plaaslike dierebeskermingsverenigings.
Bredell het beklemtoon dat dit ‘n samewerkende poging van die regering, gemeenskappe en besoekers verg om mense, eiendom en die Wes-Kaap se kosbare natuurlewe gedurende hierdie uitdagende somer te beskerm.





