Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) bespeur ‘n onrusbarende toename in die vandalisering van munisipale infrastruktuur – die totale koste vir die jaar staan reeds op skade van R472 399.
Tereza Burger, ‘n munisipale woordvoerder, het gesê die SBM veroordeel onomwonde die misdade van vandalisme en diefstal, wat dienslewering ondermyn en wetsgehoorsame inwoners ontneem van die dienste wat hulle regmatig toekom.

Net in Vredenburg is ‘n groot toename in veral wyk 2, Witteklip, ervaar, waar kabeldiefstal en skade aan straatbeligting kommerwekkend algemeen geword het.
Ander dele van die munisipale gebied word ook gereeld geteiken.
“Die munisipaliteit het in Junie altesaam 16 ernstige voorvalle van vandalisme aangeteken, waarvan die skade R76 176 beloop het.
“In Julie het ons agt voorvalle gehad, wat R65 364 beloop het, met bykomende soorte skade wat nog verreken moet word. Tot nou staan die totale koste vir die jaar op R472 399 in die Saldanhabaai- munisipale gebied. Hierdie uitgawes is ‘n beduidende verlies vir die munisipaliteit en sy belastingbetalende inwoners.”
Burger benadruk dat vandalisme en diefstal nie net munisipale infrastruktuur beskadig nie, maar ook ‘n nadelige uitwerking het op die lewe van inwoners en belastingbetalers wat op hierdie dienste staatmaak. “Niemand baat by misdadige gedrag nie.”
Die SBM doen ‘n beroep op die gemeenskap om ‘n aktiewe standpunt teen hierdie misdade in te neem.
“As u enige misdadige aktiwiteit waarneem, meld dit asseblief onmiddellik by die polisie of munisipale wetstoepassers aan. As ons saamstaan, kan ons verdere skade voorkom en die lewensgehalte van alle inwoners beskerm.
“Staan saam om die straatligte aan te hou; staan saam om ons strate en woonbuurte te beskerm; staan saam sodat ons veilig kan voel waar ons woon.”
Haar boodskap aan diegene wat hulle met hierdie onwettige dade besig hou: “Julle stel nie net die publiek se vei-
ligheid in gevaar nie, maar julle wys ook dat julle nie ‘n greintjie respek vir jul medeburgers het nie.”
Die SBM veroordeel hierdie gedrag ten sterkste en sal aanhou om regstappe in te stel teen individue wat dié misdade pleeg. “Kom ons maak ‘n einde aan hierdie vernietigende optrede. Stop vandalisme en diefstal – sommer vandag nog.”
• Meld misdaad aan: Gebruik die polisie se stopmisdaadnommer, 08600 10111, die polisienoodlyn 10111, munisipale wetstoepassing by 022 701 6912 (kantoorure) of 022 701 6834 (na ure).





