Vandeesmaand fokus die Bergrivier-munisipaliteit (BM) op die belangrikheid van etiese gedrag.
“In die nuus het ons opgemerk dat meer sake met betrekking tot onetiese gedrag veral in plaaslike regering plaasvind.”
Só het Matthew Sheldon, woordvoerder van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), onlangs namens sy werkgewer in ’n persverklaring gesê.
“Wat ons nogal verbaas, is die feit dat die meeste van hierdie gevalle van onetiese gedrag in organisasies plaasvind wat beweer dat hulle hoë morele en etiese waardes handhaaf.
“Die meeste van hierdie organisasies het goeie etiese kodes.”
Munisipaliteite in Suid-Afrika het gedragskodes vir raadslede en amptenare, maar dit wil voorkom of onetiese gedrag erger word en dit kan die vertroue van die publiek ’n knou gee,” aldus die verklaring.
Een van die BM se kernwaardes is sy strewe na “etiese gedrag”.
Volgens Sheldon glo BM aan waardegedrewe leierskap en om die regte toon van etiese gedrag van bo af, deur die hele organisasie, aan te gee.Wat is etiese gedrag?
In ’n munisipale omgewing is etiese gedrag van toepassing op enige werknemer, toesighouer, bestuurder, direkteur of raadslid.
Hulle moet gedrag toon wat eerlik en regverdig is in hul verhoudings met hul kollegas en die breë gemeenskap.
Om goeie etiese gedrag te toon, het ’n uitwerking op munisipale moraal en kliënteverhoudings.
“Om dit eenvoudig te stel, hoë etiek skep hoë vertroue, hoë vertroue skep hoë prestasie.
“BM streef werklik na prestasie en gevolglik is dit ook deur ses agtereenvolgende skoon oudits gedemonstreer,” sê Sheldon.
Lede van die publiek word aangemoedig om onetiese gedrag by die uitvoerende burgemeester, raadsheer Ray van Rooy, of die munisipale bestuurder, Hanlie Linde, aan te meld. Bel Van Rooy by 083 657 9615 en Linde by 082 448 1231 of 022 913 6011.
. Klagtes kan ook by Cindy Ranna by 022 913 6002 aangemeld word of per e-pos na rannac@bergmun.org.za gestuur word.



