Visfilette, kaas, perlemoen en blikkiesvis.

Eersdaags sal Sea Harvest agter al hierdie produkte op die winkelrakke staan. Die visserygroep het Dinsdag (23 Januarie) sy planne om die Terrasan-groep vir byna R1 miljard aan te skaf, bekend gemaak. Terrasan besit onder meer die St Helenabaaise West Point Fishing wat sardientjies en ansjovis vang en verwerk. Tussen die bote en fabriek het West Point sowat 600 werkers in diens.

Benewens die visolie en vismeel wat die aanleg vervaardig, is hy ook vir meer as ’n eeu verantwoordelik vir die bekende “Saldanha”-blikkiesvishandelsnaam. Die vismeel en visolie word grootliks uitgevoer.

Volgens Felix Ratheb, die uitvoerende hoof van Sea Harvest, sal die 100%-verkryging van Terrasan en 63,07% van sy perlemoen-filiaal Sea Harvest onder meer help om sy eie klein kwota vir sardyne en ansjovis uit te brei.

Ratheb meen die sikliese aard van die pelagiese en stokvis-visserye vul mekaar goed aan en tesame met die perlemoen-onderneming help dit Sea Harvest om sy bedrywighede te diversifiseer.

Benewens Sea Harvest se seekos besit hy ook Ladismith-kaas en Mooivallei Suiwel, en is reeds jare lank in die Weskus-akwakultuurbedryf besig met die verbouing van perlemoen en oesters.

Danie du Toit, die Terrasan-groep se uitvoerende hoof, meen ’n gekombineerde Suid-Afrikaanse perlemoenbedryf beteken albei maatskappye sal voordeel trek uit die sinergie en bied die geleentheid om in internasionale markte mededingend te wees.

Aqunion is die Terrasan-groep se perlemoen-onderneming en is reeds 30 jaar in Hermanus en Gansbaai bedrywig. Hier word die perlemoen gekweek, gedroog en óf ingelê óf lewend na die internasionale mark uitgevoer.

Aqunion verskaf werk aan 430 mense.

Fred Robertson, Sea Harvest se nie-uitvoerende voorsitter, sê dit was belangrik dat die verkryging van Terrasan dié maatskappy se werknemers bevoordeel deur hul poste te verseker.

Robertson sê waarde word geskep vir die Saldanha Foods-werknemerstrust sowel as die plaaslike gemeenskappe soos St Helenabaai en Saldanha, waar hul bedrywighede is.

Die R965 miljoen sal deur R600 miljoen van Sea Harvest-aandele vereffen word, met die res van die transaksiebedrag wat kontant betaal sal word.

Aandeelhouers van Terrasan sowel as Sea Harvest moet nog die transaksie goedkeur.

Die transaksie is ook onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article