Die nuus oor die skielike afsterwe van Natie Coetzer (65), die eienaar van die Astron Energy N7-vulstasie tussen Malmesbury en Moorreesburg, is met groot hartseer en skok ontvang.
Coetzer het in ‘n baie kort tyd diep in die hart van die gemeenskap geklim, soos blyk uit die talle boodskappe van medelye wat steeds op sosiale media instroom.
Hy is Sondag 18 Januarie om 10:00 ná ‘n kort siekte in die Crestcare-hospitaal in Malmesbury oorlede. Volgens sy familie was Coetzer se kanker in remissie, maar is hy verlede week Maandag van die Mediclinic Panorama na Crestcare oorgeplaas nadat kanker weer by hom gediagnoseer is.
Hy en sy vrou, Lenette, het in Desember 2022 van Limpopo na Malmesbury verhuis, waarna die splinternuwe vulstasie kort daarna met groot opwinding geopen is.
“Hy sal onthou word vir sy vriendelikheid, sy geloof en sy bereidwilligheid om mense te help, na hulle om te sien en vir hulle te bid,” het die gesin in ‘n gesamentlike verklaring gesê.
Hulle onthou veral die lekker vakansies en tye saam rondom die braaivleisvuur.
“Hy was baie lief om vleis te braai en het ‘n groot passie vir die lewe en vir die Here gehad.”
Volgens sy gesin en personeel is sy lewe gekenmerk deur sy geloof en sy oortuiging dat alles deur God moontlik is. Hy sal baie gemis word.
Coetzer laat sy vrou, vyf dogters, tien kleinkinders, sy ma, broer en suster agter. Sy begrafnis vind Vrydag 23 Januarie om 10:00 vanuit die NG Noord-kerk in Malmesbury plaas.




