Die 2025- nasionale seniorsertifikaat-eksamen begin op Dinsdag 21 Oktober en eindig eers op Woensdag 26 November.
“Matriekonderwysers, assistente en amptenare het hard gewerk om ons kandidate vir die laaste hindernis van hul skoolloopbane voor te berei,” sê David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys.
Byna 22 000 matrieks het die #BackOnTrack-winterskool die afgelope wintervakansie bygewoon. Dit het in al agt onderwysdistrikte in die provinsie plaasgevind.
Hersieningsklasse sal ook gedurende die komende skoolvakansie in Oktober plaasvind, terwyl matrieks ook naweekhersieningsklasse gedurende die derde kwartaal het.
“Ons jaarlikse matriekondersteuningsboekie is by skole afgelewer, wat vorige matriekvraestelle, administratiewe besonderhede soos die eksamenrooster en slaagvereistes, studiewenke en raad oor naskoolse studies bevat.
“Ons verskaf ook ‘n Wenke vir Sukses-boekie, wat gedetailleerde raad bied oor hoe om doeltreffend te studeer, die sleutelkonsepte wat jy vir die eksamen moet ken, leiding oor die handhawing van gesondheid en welstand gedurende die eksamentydperk, ‘n voorbeeld van ‘n studierooster en raad van voormalige matriekleerders.”
Volgens Maynier is die aanloop tot die matriekeksamen ‘n besonder stresvolle tydperk vir kandidate en hy bemoedig alle leerders wat sukkel, of volwassenes wat bekommerd is oor ‘n leerder se geestesgesondheid, om die WKOD vir hulp te nader.
Skoolpersoneel kan ook die tolvrye Veilige Skole-hulplyn by 0800 45 46 47 skakel vir leiding.
Maynier doen ook ‘n beroep op die publiek om voorkeur aan matriekkandidate te gee deur hulle nie in die aanloop tot en tydens die eksamens met betogings in en om skole te ontwrig nie.
“Die ure wat julle oor die volgende 40 dae belê, sal vir julle tot groot voordeel tydens die eksamens wees.”
• Besoek die webwerf vir ‘n groot verskeidenheid e-leerhulpbronne, insluitend vorige vraestelle en memo’s, videolesse, in- houdsopsommings en studiegidse.





