By Alida Buckle, redakteur (links), staan die personeel van BP Marine in St. Helenabaai, met hul trofee as vanjaar se wenner van die wegneemete-afdeling. Hulle is (van links) Desiree Bezuidenhout, Elretha Julies, Juanique Bowers, Katriena Cloete, Sandra Cloete en bestuurder Ernie Malan. Nie op foto: Nosicelo Mbanga.

Die agt beoordelaars in vanjaar se Weslander- Vis-en-Tjipskompetisie se punte het gepraat en die wenners is aangewys:

In die restaurant-afdeling het Marc’s Beach Bar in Langebaan loshande gewen. By dié Vis-en-Tjipskoning 2025 is die diens professioneel en vriendelik, die vis smelt-in-die-mond lekker en die tjips perfek. Die beoordelaars was Marius Coetzee, ‘n sakeman van Vredenburg; Anene Loubser, ‘n ervare sjef wat as “mystery judge” opgetree het; Louis Buckle, ‘n vis-en-tjips-liefhebber, en Alida Buckle, redakteur van Weslander.

Marc’s Beach Bar se puntetelling was 93/100, met die naaswenner Visvlekhuis in Velddrif (70,5/100 punte), en Deli on Main in Dwarskersbos ‘n kortkop agter met 68/100.

Die wenner van die beste wegneem-vis-en-tjips is vanjaar BP Marine in St. Helenabaai. Volgens die beoordelaars, die Weslander-werknemers Noluvu Ludidi, Linda Luyt, Yvette Smith en Madelie van Tonder, se puntetellings, het BP Marine ‘n wenresep beet vir hul vis-en-tjips. Hulle het 86/100 behaal.

Die ander drie wegneemeteplekke op die kortlys was Charlie’s Fish Shop in Saldanha (78/100), Die Posbus in Velddrif (74/100) en Excellent Fish & Chips in Vredenburg (59/100).

Wat vis en tjips so lekker maak, hang van individu tot individu af. Die vis en tjips van ál die deelnemers was voortreflik, en elke plek op vanjaar se kortlys is gewis ‘n besoek werd.

Kritiek van die beoordelaars se kant het grate in die vis, personeel wat tussen etende gaste loop en rook tot vis wat effens rou is, ingesluit. Punte is afgetrek vir té pap, té hard, té droog of ‘n té dik kors.

Die tjips is ook fyn deurgekyk en veral Marc’s Beach Bar, Die Posbus en BP Marine is geprys vir heerlike, varsgemaakte tjips. Oor die algemeen het beoordelaars tjips met speserye hoër punte gegee, maar dit bly ‘n persoonlike keuse.

Personeel se opregte vriendelikheid het vir beoordelaars veral by Marc’s Beach Bar, Deli on Main, BP Marine, Charlie’s Fisheries en Excellent Fish & Chips uitgestaan.

Die gemiddelde punt vir geur en smaak was 6,7 uit 9, tekstuur en voorbereiding was 3 uit 4, aanbieding en porsiegrootte 3,1 uit 4, varsheid en gehalte 3 uit 4 en eetervaring en netheid 3,5 uit 4.

Weslander bedank elke deelnemer aan vanjaar se kompetisie én die beoordelaars vir hul tyd en moeite.

• Geluk aan Marc’s Beach Bar en BP Marine met jul titels!

Renier “Ossie” Karsten, die bestuurder van Marc’s Beach Bar in Langebaan, saam met Alida Buckle, Weslander-redakteur, met die trofee as wenner in die restaurant-afdeling. Foto’s: Blaze Buckle

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article