Die plaaslike polisie het duisende Mandrax-pille by ’n huis in Vredenburg se middedorp gevind.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die streek, het die polisie inligting ontvang dat iemand op die betrokke perseel in Dorpstraat dwelms ontvang en stoor.
Die inligting is opgevolg en die polisie het ’n reusevonds van 4 000 Mandrax-pille by dié adres gemaak. Een verdagte (40) is Maandagaand 22 Augustus om 20:00 in verband met die dwelmvonds in hegtenis geneem.
Hy sou na verwagting gister (Woensdag 24 Augustus) op aanklagte van die onwettige besit van en handel in dwelms in die landdroshof verskyn.





