Saldanha Animal Care (Sac) het die hulp van die gemeenskap nodig.
Dié dierewelsynorganisasie is bekend in die dorp en trek finansieel swaar. Zanette Kellerman van Sac sê daar word na 62 honde omgesien en hulle het nog geen borge vir vanjaar nie.
Dus hou Sac ’n Swart-Vrydag-verkoping op Vrydag 24 Februarie om geld in te samel, asook om hul winkel blootstelling te gee. Alle goedere word teen R20 verkoop en daar sal ook worsrolletjies teen R20 verkoop word.
Kellerman kom al nege jaar saam met Sac en deel ’n groot liefde vir diere. Sy bekommer haar oor wat die toekoms sal inhou, sou die daaglikse kostes nie gedek kan word nie.
“Maandeliks kos ons hondekos omtrent R11 000 en ander basiese onderhoud moet ook gedek word. Enige hulp sal waardeer word.”
Wys jou ondersteuning en besoek Sac hierdie Vrydag. Om ’n donasie te maak, kontak Kellerman by 082 921 0233.




