Die span agter die Transnet Saldanha Super8-toernooi maak gereed vir die 2023-toernooi en het Vrydag die deelnemende spanne aangekondig. Die organiseerders sluit in: Agter: Marius Arenda en Johann Maarman. Voor: Yaasen van der Westhuizen, Emelda Thyssen, Bertram Vraagom, Senobia Jassen en Brian Rass. Foto: Yaël Malgas


Drie dae, agt spanne en een kroon.

Die vierde weergawe van die Transnet Saldanha Super 8-rugbytoernooi word weer Paasnaweek aangebied.

Vanjaar word drie spanne die eerste keer by die toernooi verwelkom. Safcol (Grabouw), Raiders (Goue Leeus) en Bella Vista (Ceres) is vanjaar se nuwelinge.

Die verdedigende kampioene, Roses United, is terug, sowel as Tygerberg (WP), Crusaders (SWD), Progress (OP) en die gasheerspan, Saldanha.

Crusaders en Progress is weer onderskeidelik die liga-kampioen van die SWD en die OP.

Bertram Vraagom, toernooi-direkteur van die Super 8, sê die bestes van die bestes is vanjaar na die toernooi genooi.

“Die Super 8-toernooi is nou besig om ’n nasionale toernooi te word en ons strewe is om elke jaar die kampioenspanne van die onderskeie provinsies te nooi. Tygerberg het reeds ’n proesel weg van die Super 8 toe hulle aan die eerste toernooi deelgeneem het.

“Vanjaar kry hulle weer ’n kans om hul kleim af te steek. Die toernooi, wat sowat 15 000 toeskouers oor die Paasnaweek lok, is die grootste amateur-toernooi in die land en is ’n vertoonvenster vir die onontginde rugbytalent wat in die rugbygemeen­skap bestaan,” verduidelik hy.

Yaaseen van der Westhuizen, die voorsitter van die Saldanha-rugbyklub, meen die beste span is die een wat sy kanse die beste op die veld gebruik, en hy glo vanjaar se toernooi sal gewis hoëgehalte rugby oplewer.

Die toernooi sal weer regstreeks deur SuperSport uitgesaai word.

Benewens die aksie op die rugbyveld sal netbalspelers die eerste keer verwelkom word.

Sestien spanne van ses netbalfederasies sal dit uitspook om as die eerste Super 8-netbalkampioen gekroon te word.

“Ons is reg om ’n hoëgehalte toernooi aan te bied, en die spanne wat gaan deelneem, is van die beste amateur­-s­panne in die land, wat ’n rugby- en sport-skouspel soos min kan oplewer,” sê Vraagom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article