Sal ek dit iewers wegbêre saam met al die ander kosbare goedjies, of sal ek maar iemand daarmee seën?
Die mens is en bly nou eenmaal maar ’n wonderlike komplekse wese. Deel van die komplekse kant van ons bestaan is die geneigdheid om vas te hou aan dit wat was of dit wat ons oor ’n tyd versamel het, of dit nou daardie koerantuitknipsel uit die jaar 1982 is of die begrafnispamflette van toentertyd. Iewers moet dit veilig bewaar word – hetsy iewers in die linnekas, onder die matras of in ’n geheime trommeltjie wat op die mees ondenkbare plek weggesteek word.
Natuurlik stop dit nie daar nie. Gaan loer maar weer deur daai klerekas hier skuins voordat die winter sy kop in alle erns kom uitsteek. Daar is rye op rye klere wat vergete en verlate daar hang en wag vir beter dae, want iemand het iewers van hulle vergeet. Dieselfde iemand verseg egter om afstand te doen van daai nommertjie wat iewers in die jare tagtigs hoogmode was. Die rede daarvoor is so vreemd soos ’n politikus in ’n informele woonbuurt. Daai redes kan wissel van iemand spesiaal wat dit gekoop het tot die verskoning dat dit dalk iewers weer gaan pas . . . sodra daai ekstra vetrolletjies weggewerk is.
Ons praat nie eens van daai stapels dokumente waaraan nie geraak mag word nie, want iewers moet bewyse gehou word as iemand soos ’n skuldeiser dit net wil waag om te kom skoorsoek. Laat my sommer dink aan die keer toe ek ná ’n baie lang tyd by vriende gaan inloer het. Die weersien was natuurlik ’n groot lekkerte, maar ai, daai innooi om ietsie in die sitkamer te gaan geniet, was ’n perd van ’n ander kleur. Met die intrapslag het dit vir my gevoel asof ek myself moes skraler maak om verby al die oortollige items in die huis te beweeg. Daar was kaste, stoele, tafels, portrette, vertoonkaste met borde, pierings –noem maar op – oral in die verskillende vertrekke. Ek wou verstik om net daarna te kyk.
Ek dink dis waar my fobie vir opgaar begin het. Ek het dit my persoonlike motto gemaak om lig deur hierdie lewe te reis. As ek onnodige bagasie het wat dreig om ’n saamrygeleentheid met my te soek, dan sê ek dadelik en beslissend nee. Watter aardse items dit ook al kan wees, verkies ek om net die nodige saam met my op reis te neem.
Natuurlik is daar die paar goed wat vir my ekstra sentimentele waarde inhou, en hierdie goed sal natuurlik altyd welkom wees op my reis deur die lewe. Een hiervan is ’n kiekie-album – ja, een van daai albums wat ons nog voor die ontploffing van sosiale media in elke huishouding gehad het. Hierin kan ek my by tye vir ’n oomblik verlustig aan die vol lewe wat ek as jong lat geniet het en wat my nou nog inspireer om voluit te leef!
Soms strek die eienaardige gewoonte om op te gaar en vas te hou aan iets ook verder as net klere, papiere en ander goeters. Dit sluit ook baie kere die mense (verhoudings) in waaraan ons soos ’n bloedsuiende muskiet vashou. Ons wil maar net nie afsien van dit wat eens was nie en hou daai vriendskap kunsmatig aan die lewe, al sien jy dat alles aangaande die vriendskap toksies van aard is.
Nog ’n keer was jy die nar wat die skare vriende sit en trakteer met jou toertjies en die Dinsdag ná die naweek se makietie is jy maar weer platsak, want jy wou jou titel gestand hou – die lewe van die partytjie.
Ons praat nie eens van daai verhoudings waar die eks maar net nie vergeet kan word nie . . . om watter duistere rede ook al. Eish, nog net so ’n laaste inloer, dan sal jy met moed en spoed aanbeweeg. Keer op keer word die ou paar skoene maar weer aangetrek en word dieselfde rowe gelek, tot ’n volgende keer.
Glo my, ek wys hier geen vinger na jou nie, want ek praat uit persoonlike ervaring. Ek ken daai opgaar en vashou aan dit wat was, maar al te goed. Dis eers as jy daai nagevolge van die oortollige bagasie aan eie bas ervaar, dat jy tot die ontdekking kom dat dit soveel beter is om afstand te doen van dit wat oortollig of oormatig in jou persoonlike ruimte is – of dit nou dergelike goed of verhoudings van ’n negatiewe aard is. Jy kan, mag en moet afstand doen daarvan om uiteindelik vry en gelukkig te kan wees. Is die ontslae raak van die oortollige goeters in ’n mens se lewe ’n maklike proses? Gewis nie, maar dit is wel die moeite werd om dit in daardie rigting te waag.
Dalk is daai skoon bladsy net die ding wat jy tans die nodigste in jou lewe het, want jy verdien beter as die rommelhoop waarmee jy nou opgeskeep sit.
Die winter is op pad. Maak leeg daai kas en reis lig verder deur die lewe.





