Dit was ’n besige paar weke vir die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) se brand- en reddingsdienste.
Lede van die Weskus-brandweerdienste, die Bergrivier-munisipaliteit, Working on Fire, die Brandvereniging en CapeNature het verlede week hard gewerk om ’n brand in die Porterville-omgewing te bedwing en te blus. Die brand, wat agt dae lank gewoed het, het meer as 4 000 hektaar fynbos vernietig.
Weskus brand- en reddingsdienste is deur Cape Nature erken vir hul harde werk en onwrikbare ondersteuning gedurende die 2023-’24- brandseisoen.
Heinrich Robertson, skakelbeampte van WDM, sê buiten om hul eie pligte in hul diensgebied na te kom, staan die munisipaliteit naburige munisipaliteite by wanneer nodig. “In Januarie het WDM se brandweerdienste die Kaapse Wynlande bygestaan tydens die verwoestende brande in die Wolseley- en Worcester-gebied.”
Die toekenning is aan die brandweerhoof, Bertus Senekal, oorhandig deur die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsdienste, die raadslid Joos Engelbrecht.
Robertson voeg by die Weskus-distriksmunisipaliteit is verantwoordelik vir die blus van veld- en chemiese brande in die Weskus-gebied.
“Die distriksmunisipaliteit ondersteun plaaslike munisipaliteite in die Weskus om brande in hul diensgebied te blus wanneer dit versoek word.”





