Heroïen met ’n straatwaarde van R85 000 is op ’n perseel in Tierkloofstraat, Vredenburg, gevind.Foto:


Twee dwelmsmouse, onderskeidelik 37 en 27 jaar oud, is Sondagaand 14 Augustus met R85 000 se heroïen in hul besit in Vredenburg vasgetrek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is die twee mans om 18:00 deur die Weskus se blitspatrollie in hegtenis geneem nadat ’n verdagte voertuig die polisie na ’n reusedwelmvonds by ’n perseel in Tierkloofstraat in een van Vredenburg se meer gegoede woonbuurte gelei het.

Helfrich sê die verdagte motor is deur die polisie in die dorp opgemerk, waarna daar ondersoek ingestel is.

Die verdagte motor is geïdentifiseer as ’n voertuig wat voorheen gebruik is om elders dwelms te vervoer. Die polisie is daarna na die perseel in Tierkloofstraat om agter die kap van die byl te kom.

Die mans en die perseel is deursoek en daar is op 76 pakkies heroïen met ’n straatwaarde van R85 000 beslag gelê. Die mans het Dinsdag 15 Augustus in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article