’n Gerespekteerde man in die gemeenskap – dis hoe baie wyle Louis Alfred Dirks beskryf en altyd sal onthou.

Dirks het Sondag 22 Mei op 98-jarige ouderdom sag in sy slaap heengegaan.

Weslander het in September 2021 berig oor sy lewe en die invloed wat hy op baie se lewe gehad het (“Sy raad op 98: respekteer mekaar”, Weslander 23 September 2021).

Medelye ná sy dood het op Facebook ingestroom.

Sy familie vertel hulle het geweet sy sterfdag sal nog kom, maar soos baie is ’n mens nooit daarop voorberei wanneer dit wel gebeur nie en was dit steeds ’n skok.

Sy familie, Hildegarde Coetzee en Lucelle Maclons, sê Dirks was hul alles. Hulle beskryf hom as ’n mensemens met ’n groot hart en sê hy was ’n gerespekteerde man wat self ook respek aan ander getoon het.

Dirks het self destyds aan Weslander vertel mense moet mekaar met respek behandel en ouers moet ’n voorbeeld aan hul kinders wees sodat hulle ook aan ander ’n voorbeeld kan wees.

Dirks was langer as 40 jaar in die onderwys en is in 1971 as Laerskool Panorama se eerste skoolhoof aangestel. Hy het in 1983 uit die onderwys getree.

“Ons gaan sy grappies mis – veral net die mens wat hy was. Almal het hom Meneer Dirks genoem; dis hoe hulle hom respekteer het,” vertel sy familie.

Hulle voeg by dat hulle uitgesien het na sy 100ste verjaarsdag, maar vind rus in die Here en sy planne. “Ons was geseënd om hom al die jare by ons te hê.”

Die begrafnis vind plaas Saterdag 28 Mei om 11:00 by St Monica’s Anglikaanse Kerk in Vredenburg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article