Talle gevalle van ingewandskoors is vanjaar oor die provinsie heen waargeneem.

Die departement van gesondheid deel die volgende inligting om inwoners te help om ingewandskoors te voorkom.

Ingewandskoors of buiktifus word veroorsaak deur ’n bakterie genaamd Salmonella Typhi en Salmonella Paratyphi A, B of C. Dit kom meestal voor in gebiede waar water en kos dalk onveilig is en waar daar swak sanitasie is. Enige mens wat die organisme inkry, is vatbaar om ingewandskoors te ontwikkel.

Die bakterieë word versprei deur kontak met ontlasting, besmette kos en water en direkte of indirekte kontak met ’n persoon wat aangesteek is.

Sommige mense dra steeds die bakterieë al het hulle nie meer simptome nie.

Simptome sluit onder meer in koors, hoofpyn, maagpyn en krampe. Sommige mense voel oor die algemeen nie lekker nie en mag dalk naar wees en braak.

Die simptome kan so vroeg as drie dae tot so laat as 60 dae voorkom nadat jy aan die bakterieë blootgestel is. Mense begin gewoonlik binne nege tot 21 dae ná blootstelling siek word. Enigeen met simptome moet dadelik mediese hulp kry.

Voorkom ingewandskoors deur hande gereeld te was, pas goeie higiëne toe in die kombuis en hou huishoudelike water- en sanitasievoorrade skoon. Raak veilig ontslae van menslike ontlasting (stoelgang) en weggooidoeke.

As jy ingewandskoors het, moet jy goeie higiëne toepas, vermy dit om kos te hanteer en kry liewer iemand anders om te help om na kinders en bejaardes om te sien.

Sodra behandeling voltooi is, sal gesondheidsorgwerkers drie agtereenvolgende stoelgangmonsters neem om te toets of dit weer veilig is om terug te keer na jou gewone aktiwiteite.

Wees op die uitkyk vir enige tekens en simptome wat kan aandui dat jy dalk ingewandskoors het. As jy wel enige tekens of simptome opmerk, kontak jou gesondheidsorgverskaffer dadelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article