Carlin-Ann Cleophas is opgewonde oor die netbalweek in Londen.

Toewyding en harde werk het Carlin-Ann Cleophas op die pad gesit waar sy vandag is. Dié gr.10-leerder van die Hoërskool Vredenburg het die geleentheid van ‘n leeftyd gekry en is deur die skooltoer-

spesialiste Travel and Sport gekies om aan die o.18- Arthur Johnson-netbalsportweek in Londen deel te neem. Dit sal tussen Maandag 1 en Dinsdag 9 Desember plaasvind.

Volgens Carlin-Ann het haar liefde vir netbal op laerskool begin. “Ek het die eerste keer op die skool se netbalbaan gespeel en iets aan die spel het dadelik vir my besonders gevoel. Met elke wedstryd en elke nuwe seisoen het ek gevoel hoe netbal my selfvertroue bou en my leer om deel van ‘n span te wees. Dis op daardie laerskoolbane waar ek besef het dat netbal nie vir my net ‘n stokperdji is nie, maar ‘n sport wat ek regtig liefhet en waarin ek graag wil uitblink.

“Nou, op 16 jaar, is daardie liefde net nog groter.

“Om in Londen te gaan speel, gee my die geleentheid om te sien hoe ander lande netbal benader en nuwe vriende te maak. Dit voel vir my soos ‘n reusesprong vorentoe op my netbalreis. Ek is baie dankbaar om gekies te wees.”

Haar ma, Alicia Cleophas, spreek ook haar dank uit vir elkeen wat Carlin-Ann ondersteun het om hierdie droom ‘n werklikheid te maak. “Hierdie is ‘n ongelooflike voorreg en ‘n groot mylpaal vir haar, en dit sou nie moontlik gewees het sonder die reusagtige ondersteuning van ons gemeenskap, familie, vriende en ondernemings wat met ons hande gevat het nie.”

Alicia bedank ook graag vir Charl en Melody van Rensburg van Oppikaai in St. Helenabaai vir hul hulp en bystand.
Carlin-Ann sê sy sien uit om teen spanne van ander lande te speel, nuwe tegnieke te leer en dié strategieë huis toe te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article