Die Green Lillies-bejaardesorgklub is trots op 40 jaar se samesyn.

Letitia Van Zyl-Schultz

Die Green Lillies-bejaardeklub is ‘n gevestigde gemeenskapsorganisasie, wat al sedert 1985 ‘n veilige, warm en ondersteunende ruimte vir die bejaardes van Vredenburg en omliggende gebiede bied.

Lede het die afgelope Donderdag (26 November) in die Dwarskersbos-kampterrein se saal bymekaargekom om die klub se veertigste bestaansjaar te vier.

Volgens Welize Dokter, die voorsitter, het dit wat as ‘n klein saamkuiergroepie begin het, oor vier dekades gegroei tot ‘n dinamiese klub waar vriendskappe gevorm, lewensgehalte bevorder en dié ouderdomsfase met waardigheid gevier word.

Die klub bied weekliks byeenkomste met aktiwiteite soos kultuurdae, sang en speletjies, gemeenskapsbetrokkenheid en uitstappies aan.

“Vir baie lede is die Green Lillies nie net ‘n klub nie, maar ‘n lewenslyn van samesyn en ondersteuning,” sê Dokter.

Die viering van hul 40ste bestaansjaar is ‘n besonderse mylpaal en erkenning aan die vrywilligers, gemeenskapslede en leiers wat oor die jare hul tyd en energie gegee het om die klub volhoubaar en lewendig te hou.

Dokter het die verrigtinge geopen en ‘n kort oorsig oor die klub se oorsprong gegee. Sy het die gaste vir hul teenwoordigheid bedank en spesiale dank aan ouma Lea Coetsee (87) gegee, wat die langste al ‘n lid is en altyd gewillig is om te help met haar naaldwerkitems vir geldinsamelingsprojekte.

Uit waardering vir ouma Lea se bydrae het Dokter names die klub ‘n geskenk aan haar oorhandig.

Sakkie Mentoor, die ondervoorsitter, het in sy toespraak gepraat oor die hegte band tussen lede en vertel hoe die Green Lillies oor die jare ‘n groot familie geword het.

Annelize Dirkse, die sekretaresse en tesourier van die klub, het die program gelei en almal het saamgesing en die Here geloof.

Die spesiale geleentheid is natuurlik met tuisgemaakte lekkernye afgesluit.

Sakkie Mentoor, ondervoorsitter, saam met sy vrou, Patricia.
Die voorsitter, Welize Dokter, en haar man, Piet.
Ouma Lea Coetsee (87) is die lankste al ‘n lid.
Lede van die Green Lillies-bejaardeklub kom om vrolik gedekte tafels bymekaar om die klub se 40ste bestaansjaar saam te vier. Foto’s Letitia Van Zyl-Schultz

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article