Adam Small het destyds geskryf: “Die Here het gaskommel, en die dice het verkeerd geval vi’ ons, daai’s maar al.”
Verlede week, met die gebeure in Paternoster, het ek weer aan Small se woorde gedink. Hy, die digter van die struggle, het dikwels geskryf oor die onderdrukking van bruinmense tydens apartheid.
Hy het byvoorbeeld geskryf oor die bulldozers wat gekom het en ons mense se huise “demolish” het. Ja, die bulldozer – hy het gekom.
Die storie van die Weskus, en Paternoster in besonder, is uniek. Daarom was ek ontsteld oor hoe Weslander se redaksie die situasie in sy redaksionele kommentaar beskryf het.
Kommentaar is nie ‘n berig nie, maar dit weerspieël ‘n koerant se standpunt. In mediastudies wys sulke kommentaar dikwels hoe ‘n koerant oor ‘n situasie voel.
Die beskrywing van die gebeure as “anargie” suggereer dat bestaansvissers “oproerig” en “gewelddadig” is – ‘n swak analise.
Verder is dit onwys om te suggereer dat plaaslike vissers oor die algemeen “onwettig” op die water is, en om hulle as “smokkelaars” te etiketteer.
Nie almal kan oor dieselfde kam geskeer word nie. Hierdie soort beskrywing weerspieël ‘n mentaliteit waar “afgepraat” word na mense – ‘n joernalistiek wat prof. Steven Friedman beskryf as “joernalistiek vir en van die suburbs”.
So, waaroor die bohaai? Wanneer ‘n nuwe buurman intrek en besluit om jou hele buurt te transformeer, sal jy nie ontsteld raak nie? Wanneer hy in jou tuin kom krap, sal jy nie ‘n vloermoer gooi nie? Dis die ander kant van die verhaal.
Baie Weskusdorpies het oor die jare verander – van eenvoudige vissersdorpies tot paleise vir die elite. Intussen stagneer diegene wat al dekades daar woon en word hulle net armer. Ja, die regering dra ook skuld – veral die plaaslike regering, wat ontwikkelings goedkeur sonder om die plaaslike gemeenskap te raadpleeg.
Toe vissers hoor hul bakkies is ‘n probleem vir die elite, het hulle opgeruk en hul stem dik gemaak.
Dis hul reg om kapsie te maak teen ‘n buurman wat besluit om in hul tuin te krap. Natuurlik sal mense ongelukkig wees oor planne sonder enige konsultasie om hul omgewing te verander.
Die waarheid is: Die Weskus het ‘n toevlugsoord geword vir baie wat uit die noorde van vervallende dorpe vlug. Dis hul reg – dis ons almal se land. Die probleem lê by diegene met geld wat ‘n Sandton op die strand wil bou, sonder enige gevoel vir plaaslike erfenis, kultuur en leefwyse.
Nog ‘n digter vra: “Ken jy die see, meneer?” Nou toe, ken jy die see? My pa was ‘n visserman. Ek het hier aan die kus grootgeword, en oor dekades het dit baie verander. Die visserman, sy manier van dinge doen, sy herkoms – daarvan kan jy my niks vertel nie. Ek verstaan sy pleidooi en sy woede.
Hier in Paternoster is reeds so baie van hierdie mense ontneem – hul grond, om maar een te noem. Ja, die bulldozer.
Nog minder te praat van hul menswaardigheid. Eers onlangs het die regering begin om hul waardigheid terug te besorg. Ken jy die see, meneer? Dis al wat hier- die mense nog oor het. Die regering het intussen hul kwotas verminder – dit gaan broekskeur. Intussen is die regte stropers daar buite die eintlike smokkelaars.
Waar is die kapsie teen hulle? Ja, die Here het gaskommel, maar die dice het ongelukkig verkeerd geval.
William Sezoe, joernalis en M-student, Universiteit Stellenbosch
• Kommentaar van die redakteur: Baie dankie vir die deeglike perspektief op die onrus in Paternoster en die geskiedenis daaragter. Herinneringe aan Adam Small se woorde, en die konteks waarin jy dit plaas, beklemtoon die pyn, erfenis en kompleksiteit van die Weskus-gemeenskappe. Ons waardeer dit opreg wanneer lesers hul ervarings en interpretasies met ons deel.
Ons wil dit graag duidelik stel dat dit Weslander se doel is om breër maatskaplike vraagstukke te belig, maar dit verander nie ons kernbeginsel nie – om albei kante van enige saak te dek.
Dit is belangrik om te beklemtoon dat ons beriggewing nie “bestaansvissers” as “onwettig”, “oproerig” of as “kreefsmokkelaars” bestempel nie.
Inteendeel, Weslander het oor die jare heen deurentyd empatie met die plaaslike gemeenskappe – insluitend bestaansvissers – uitgespreek en oor die spanning tussen gevestigde inwoners en inkommers wat bestaande lewenswyses ontwrig, geskryf.
Die gebruik van die woord “anargie” het sommige lesers duidelik ontstel. Ons verwys hiermee nie na ‘n gemeenskap of groep se karakter nie, maar na die objektiewe feit dat die verjaging van ‘n egpaar uit hul wettige woning en die poging om hulle, sonder enige proses of gesag, summier uit ‘n dorp te dwing, nie in ‘n demokratiese land as reg of regverdig beskou kan word nie.
Sulke optrede, hoe gefrustreerd mense ook al voel, kom neer op die opsyskuif van die landswette, wat almal behoort te beskerm. Dit is juis omdat ons die erfenis van onderdrukking en verlies begryp dat ons nie kan goedkeur dat mense vandag weer sonder prosedure of regsmiddele uit hul huise gedwing word nie.
Die betrokke egpaar was duidelik getraumatiseer, en enige mens met empatie moet dit kan verstaan. Net so verstaan ons die pyn, woede en frustrasie van die vissersgemeenskap. Ons kan egter nie net een kant van ‘n storie plaas nie; dit sal onregverdig wees teenoor alle partye én teenoor ons rol as gemeenskapskoerant.
Meningsverskille maak nie die gesprek minder waardevol nie, maar verryk dit.
Vriendelike groete,
Die Redakteur




