Die departement van kultuursake en sport nooi rolspelers in sport om hul plaaslike sportsterre as legendariese provinsiale sportsterre te benoem.
Die Sportlegende-toekennings word jaarliks ??deur die departement aangebied om diegene wat ’n rol in die groei en transformasie van sport in die provinsie vervul het, te vereer.
Om in aanmerking te kom moet die benoemde sportman of -vrou ouer as 55 wees en ’n beduidende rol in die vorming van sport in hul gemeenskappe voor 2002 vervul het.
Benoemdes is ook ideaal gesproke mense wat nie reeds voorheen erken is as gevolg van hul geslag, ras of geografiese ligging nie.
Die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, sê: “Dit is vir ons ’n eer om ons legendariese sportsterre elke jaar te vier. Deur hierdie proses gee ons erkenning aan atlete wat op die hoogste vlak presteer het, ten spyte van uiterste uitdagings om te kan deelneem. Hulle is rolmodelle vir ons jeug en ons wil hulle vier vir alles wat hulle vir ons provinsie en land beteken het.”
Die sluitingsdatum vir benoemings is Vrydag 9 September. Die mees legendariese sportsterre sal ná ’n beoordelingsproses by ’n geleentheid in Desember aangekondig en vereer word.. Nog inligting, ’n lys van vorige wenners en benoemingsvorms is aanlyn beskikbaar by https://www.westerncape.gov.za/dept/cas/documents/public_info/S/41449




