Die legendariese sangeres Sonja Herholdt het Sondag (25 Februarie) by die Hoedjiesbaai-hotel in Saldanha opgetree.
My eerste gedagte was: Sjoe, ek is dalk te jonk vir hierdie affêre, maar ek het besluit om tog te gaan, al is dit net vir die buffet-ete, want die hotel se kos is altyd lekker.
Die middag 15:00 is dit toe tyd vir Sonja.
Ek berei myself voor . . . ek ken minstens so een of twee van haar liedjies. Dit is mos genoeg? Of ten minste goed genoeg om te lyk of ek inpas.
Die eetsaal is vol mense van verskillende ouderdomme – almal vreeslik mooi aangetrek om hierdie ikoon te ontmoet.
Die volgende oomblik kom ’n tannie met die mooiste glimlag op die verhoog. Sy straal van styl en opregtheid.
Sy begin praat, stel haarself as Sonja Herholdt voor terwyl almal teenwoordig aan haar lippe hang. Sy bedank die gehoor wat haar al soveel jare ondersteun en wat dit moontlik gemaak het vir haar om haar loopbaan van 50 jaar te vier.
En toe begin Sonja Herholdt sing.
Wow! Ek besef hierdie legendariese sangeres is besonders. In die ouderdom van iewers in die sewentig, hét sy dit nog. In ’n oogwink besef ek ek is meegevoer deur hierdie vertoning – ek en al die ander wat in daardie eetsaal sit en ons verluister.
Sonja vertel die mooiste staaltjies met die mooiste aanhalings van bekendes. Sy onthou selfs ’n aanhaling wat sy op ’n pakkie suiker gelees het.
Tannie Sarie Koegelenberg het terselfdertyd haar verjaarsdag by die hotel kom vier met die bykomende verrassing dat sy haar heldin – Sonja, natuurlik – kon ontmoet. En daar sing Sonja toe vir Tannie Sarie die mooiste liedjie – “Die mense wat ek liefhet”, en noem aan die gehoor dat ons die mense wat ons liefhet, in ons eie moskombersie moet vashou.
Iets in my menswees is geraak deur die egtheid van iemand met haar eie seer; iemand wie se pad ook nie altyd maklik was nie.
Sonja is onbeskaamd oor haar lewe en die lesse wat sy geleer het.
Sy sluit af met die liedjie waarmee sy bekendheid verwerf het – “O, ek verlang na jou”.
Só diep en eerlik . . .
Sy leef haar in terwyl sy sing, en die gehoor, ek, ons almal glo haar. Almal se trane, Sonja s’n ook, lê vlak.
’n Mens dink ver, en ek besef in daardie oomblik dat ek nie te jonk is vir die legendariese Sonja Herholdt se musiek nie.
Ek besef dat ek eintlik baie van haar liedjies ken, en net nie besef het dat dit haar liedjies is nie. Ek word net daar ook ’n Sonja Herholdt-aanhanger, al is dit 30 jaar te laat.
Agterna is ek dankbaar vir die internet, waar hierdie besonderse mens se musiek altyd sal voortleef, en so ook haar goue era van musiek.





