Eduan Badenhorst, ‘n 16-jarige leerder van die Hoërskool Hopefield, het in Desember die eerste keer voor ‘n gehoor opgetree, met groot sukses. Dié jong musikant se debuutoptrede het nie net die gehoor beïndruk nie, maar ook sy musiekafrigter, Wou-
ter van de Venter, oortuig dat Eduan oor besondere talent beskik.
Vir Eduan was die ervaring aanvanklik senutergend, maar ook ‘n droom wat waar geword het.
“Dit was vir my ‘n groot oomblik om uiteindelik voor mense op te tree en hul reaksie op my musiek te sien,” het Eduan vertel.
Volgens Eduan het die warm ontvangs van die gehoor hom net meer gemotiveer om aan te hou musiek maak.
Van de Venter is self ‘n musikant, tree gereeld op en is ook by die Hoërskool Hopefield se revue betrokke.
Hy het getuig van Eduan se merkwaardige talent en genoem dat Eduan slegs vyf lesse by hom geneem het.
“Eduan het in so ‘n kort tyd ‘n ongelooflike indruk gemaak. Hy het ‘n natuurlike musikale gevoel, leer vinnig en wys ‘n volwassenheid in sy benadering tot musiek, wat ‘n mens nie gereeld by jong leerders sien nie.”
So beïndruk was Van de Venter met Eduan se vordering dat hy besluit het om van sy eie optreetyd by ‘n plaaslike restaurant in Velddrif aan die jong musikant af te staan.
“Dit was ‘n kans wat hy volkome verdien het en hy het gewis nie teleurgestel nie,” het Van de Venter gesê.
Eduan het tydens dié optrede onder meer ‘n liedjie wat hy self geskryf het, gesing.
“Vat my saam” is aan sy meisie opgedra en volgens Van de Venter het die liedjie duidelik aanklank by die gehoor gevind.
“Die opregtheid en emosie in sy musiek het ‘n besonderse atmosfeer opgelewer en luide applous ontlok.
“Deur die reaksie van die gehoor was dit duidelik dat hierdie jong musiektalent nog op talle platforms gehoor gaan word.”
Eduan het gesê hy is dankbaar vir die ondersteuning wat hy van sy afrigter, familie en die gemeenskap ontvang, en sien daarna uit om nog meer geleenthede aan te gryp om sy liefde vir musiek met ander te deel.
Eduan se boodskap aan enigiemand wat ‘n liefde vir musiek het, is om hul droom te volg en van elke geleentheid wat na hul kant kom, gebruik te maak om te leer, musiek te maak of te sing.






