Mariné Grobler, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Hopefield en lid van die Langebaan-atletiekklub, het haar skool en klub baie trots gemaak.
Grobler het ’n uitnodiging van Atletiek Suid-Afrika (ASA) ontvang om die 2024- ASA-prysuitdeling by te woon en is in die afdeling “ASA Female Rising Star of the Year” benoem.
Die spoggeleentheid het Saterdag 25 Januarie in Gauteng plaasgevind.
Mariné sê die geleentheid het vir haar ongelooflik baie beteken. “Al het ek nie gewen nie, voel ek steeds dit was ’n ongelooflike geleentheid en ek is dankbaar dat God dit op my pad gebring het.”
Haar ma, Marianne Grobler, sê sy is trots op haar dogter. “Mariné is 100% gefokus om die hoogste prestasie in spiesgooi te bereik. Sy skroom nie om ure lank op haar eie te oefen nie en druk haarself hard ten einde haar doelwitte te bereik. Bo alles glo sy dat sy haar talent van haar Skepper ontvang het, vandaar dan ook haar leuse: “Sport is my thing, but God is my King,” vertel sy.
Christopher Rodgers, voorsitter van die Langebaan-atletiekklub, voeg by dat Mariné ’n gedissiplineerde, gefokusde en vasberade atleet is. “Sy kry goeie ondersteuning van haar ouers en weet wat haar doelwitte is.”
Mariné meen dit was ’n lekker gevoel om tussen al die groot atlete van Suid-Afrika te wees en hulle in lewende lywe te kon ontmoet.
“Ek is ongelooflik bly dat ek benoem is en strewe om eendag net so groot sukses soos hulle te behaal danksy God wat my die krag gee.”





