Van die ammunisie en vuurwapens wat teruggekry is.Foto: SAPD


Met hoëdigtheidsoptredes in volle gang reg deur die Wes-Kaap, wat die Weskus insluit, is meer as 1 600 verdagtes die afgelope week weens verskeie misdade in hegtenis geneem.

Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, was 1 077 van die 1 620 inhegtenisnemings gesoekte verdagtes in verband met 22 moorde, agt sake van poging tot moord, 358 aanrandings en ’n reeks misdade wat rooftogte by sakeondernemings, huisrooftogte en ander misdade insluit.

Intussen is 533 verdagtes in ander hoëdigtheidsoptredes soos klopjagte, voertuigkontrolepunte, padblokkades en stop-en-deursoeking-optredes van verlede Maandag tot Sondagoggend in hegtenis geneem.

Die polisie het op altesaam 12 609,145 eenhede dwelms beslag gelê, wat hoofsaaklik bestaan uit dagga, Mandrax en tik, en 20 vuurwapens, 181 stuks verskillende kalibers ammunisie, 6 938,29 liter drank, en 141 gevaarlike wapens soos messe en pangas is ook afgeneem. Die geïntegreerde hoëdigtheid-optredes het drie weke gelede begin in ’n poging om misdaad reg deur die provinsie te bekamp en misdadigers op te spoor.

Die bedrywighede durf dwelms, alkohol en onwettige vuurwapens aan met klopjagte by onwettige en vermeende dwelmafsetpunte sowel as nakomingsinspeksies by gelisensieerde drankafsetpunte. “Hierdie optredes sal voortduur totdat misdaadvlakke drasties verminder het. Talle polisiebeamptes van verskeie eenhede en polisiekantore word op ’n weeklikse basis in hierdie optredes ontplooi,” het Pojie afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article