Kusbewoners word afgeraai om skeepsvragsakke met kunsmis, staalluikbedekkings en ander skeepsrommel wat dalk op Weskus-strande suid van Brand-se-baai af kan uitspoel, op te tel.
Die Suid-Afrikaanse maritieme veiligheidsowerheid (Samsa) en die departement van bosbou, visserye en omgewing (DFFE) is besig met opruimingswerk nadat die Ultra Galaxy, ’n vragskip van Panama, op 9 Julie by Duiwegat, net suid van Brand-se-baai, gestrand het.
Die skip – ’n 125 m lange vragskip wat in 2008 gebou is – was ten tyde van sy noodroep op pad na Dar es Salaam in Tanzanië en het ’n vrag kunsmis aan boord gehad.
Volgens Tebogo Ramatjie, die waarnemende uitvoerende hoof vir Samsa se korporatiewe sake en internasionale betrekkinge, het die skip se bemanning van 18 Filippynse seevaarders die vaartuig met ’n reddingsvlot verlaat toe dit gevaarlik begin oorhel het.
Ná hul noodsein is ’n Mayday-sein na nabygeleë vaartuie uitgesaai. Die Fivos, die Rio Grande Express en die Malachite-visserskuit het kom help ten spyte van wind van tot twaalf knope en deinings tussen vyf en ses meter.
Hulle het die reddingsvlot in die water opgespoor en al 18 seevaarders is in ’n gekoördineerde reddingsoperasie ongedeerd na die Malachite oorgeplaas en na St Helenabaai vervoer.
Die bemanning het intussen veilig in die Filippyne aangekom.
Verlede week se storms het veroorsaak dat die skip se luikbedekkings losgeraak en van die vaartuig af losgekom het, wat die vragruim kwesbaar gelaat het.
“ ’n Beduidende gedeelte van die skip se kunsmisvrag is deur die see meegesleur,” het Ramatjie gesê.
Hoewel van die luikdeksels weer opgespoor is, is ’n navigasiewaarskuwing nogtans uitgereik om ander skepe in die omgewing teen drywende deksels te waarsku.
Daar word tans daarop gefokus om kunsmissakke wat langs die kuslyn tot in St Helenabaai uitspoel, te verwyder.
Omdat verwag word dat die meeste van die kunsmis in die vragsakke dalk al opgelos het, het die DFFE ’n omgewingsmoniteringsprogram in werking gestel.
“Die soektog na dryfgoed en ander rommel van die skip sal oor die volgende paar dae uitbrei, aangesien die bergingspersoneel probeer om die goeie weer tussen koue fronte te benut,” het Ramatjie gesê.
“Dit is belangrik om behoorlik van enige skeepsrommel ontslae te raak om skade aan mense en die omgewing tot die minimum te beperk.”
Bergingspanne en duikers het ook reeds begin om die gestrande skip se brandstoftenks te verseël om te verhoed dat enige van die olie aan boord in die see mors.
Die strukturele integriteit van die vaartuig word ook ondersoek voordat besluit word hoe om die olie in die wrak te beveilig en die wrak veilig uit die gebied te verwyder.
Ramatjie het benadruk dat die vragskip op hierdie tydstip geen bedreiging vir die omgewing inhou nie, en dat al die moontlike aangewend word om die situasie te monitor en voorkomende maatreëls in te stel.
Die Suider-Afrikaanse stigting vir die bewaring van kusvoëls (Sanccob) bly ook op bystand en is gereed om te reageer indien ’n oliestorting sou plaasvind.
Die verwagting is dat rommel in ’n suidelike rigting sal dryf. Lesers wat dalk daarop afkom, word versoek om dit by Samsa se Maritieme Reddingskoördineringsentrum by 021 938 3300 aan te meld.





