As dit kom by die bestuur van beleggings, is verskeie aspekte binne beleggers se beheer, maar sommige is buite hul beheer – die beweging van die mark oor die korttermyn is iets wat buite ons beheer is.

Soos ons tot dusver vanjaar gesien het, kan markte oor die korttermyn erg wisselvallig wees, maar indien ons vir die langtermyn belê, sal ons hiervoor beloon word.

Een ding wat wel direk binne ons beheer is, is die koste wat op ons beleggings betaal word. Die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (ASISA) het ’n paar jaar gelede wetgewing afgekondig wat ’n eenvormige standaard stel van hoe koste aan beleggers deurgegee moet word. Hierdie standaard staan bekend as die Effektiewe Jaarlikse Koste (EJK). Vier soorte koste wat onderskei moet word, is: adviseurskoste, beleggingskoste, administrasiekoste en ander.

Adviseurskoste is betaalbaar vir die dienste wat gelewer word. Dit is gewoonlik ’n onderhandelbare fooi wat betaal word vir die werk wat die finansiële raadgewer doen. Een van die raadgewer se grootste take is om die kliënt se risikoprofiel te bepaal en ’n kombinasie van beleggings voor te stel.

Administrasiekoste is betaalbaar aan die platform waar die beleggings plaasvind. Party platforms vra ’n vaste fooi, ongeag hoe groot die belegging is, terwyl ander op ’n glyskaal werk.

Laastens kom ons by beleggingskoste. Dit is die fooi wat ’n batebestuurder vir die bestuur van die onderliggende beleggings vra. In die meeste gevalle sal ’n goeie adviseur ’n belegging tussen ’n paar fondse diversifiseer. Die algehele beleggingskoste sal dan die geweegde gemiddelde van hierdie fooie wees.

As ons hierdie vier fooie bymekaartel, gee dit vir ons die EJK van die belegging.

Dit is altyd vir my skokkend om portefeuljes teë te kom waar die fooie astronomies hoog is. In die meeste gevalle is die kliënte salig onbewus hiervan. Ek het al gesien hoe die totale EJK van ’n portefeulje tot 5% kan wees.

Ons by PSG is in die gelukkige posisie dat ons toegang het tot ’n wye verskeidenheid platforms en fondse, wat beteken ons kan ’n verskeidenheid fooistrukture ondersoek. In sommige gevalle kon ons bloot met ’n ander platform kliënte tot 0.3% bespaar, sonder dat die onderliggende beleggings veel verander moes word. ’n Koers van 0,3% klink dalk nie baie nie, maar op ’n belegging van R1 miljoen beloop só besparing R3 000 per jaar. As die belegging ’n reële opbrengs van 3% per jaar verdien, beloop hierdie besparing oor ’n 10-jaartydperk ongeveer R38 000.

Die meeste beleggers fokus so sterk op opbrengste dat hulle vergeet om na hul fooie te kyk. Dit kan ’n portefeulje maak of breek. . HW de Jager is ’n geoktrooieerde finansiële ontleder by PSG Wealth in Cecilia Square, Paarl by HW.deJager@psg.co.za.. Die inligting in hierdie dokument is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) LTD is gemagtigde finansiële diensverskaffers. FDV 728

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article