Omstandighede het my onlangs vriendelik verplig om weer ’n nodige draai in my komvandaan dorpie te maak. Ek wil glo dat daar so baie van ons is wat daai rit na ons komvandaan-plekkies wil of moet maak. My huidige woon- en werksplek is die Kaapse metropool met al sy gejaag en gewoel, maar dis waar ek my bevind en dis waar ek soos derduisende ander poog om daagliks ’n sinvolle bestaan te voer.
My komvandaan is egter die een ding wat ek nooit sal verraai of vergeet nie. My wortels is diep geanker in die Sandveld. En as ek daai nodige draai moet of wil maak, dan weet ek daar is altyd ’n paar kosbare wyshede wat ek ná so ’n kuiertjie saam met my kan neem op my reis vorentoe. Kerstyd is om die draai en dit herinner ons juis weer aan die tyd vir samesyn met familie en vriende. Dis die tyd van die jaar wanneer party van ons weer daai trippie na ons komvandaan gaan aanpak. Ander het dalk al lankal die bande met hul komvandaan vergeet en verkies die solovlug weg van hulle wat eens bemind en kosbaar was.
Dis onder die groot ou bloekomboom in my komvandaan dorpie waar ek my nuutste dosis wysheid ontvang het. Die dekades oue bloekomboom waarvan ek melding maak is die een wat majestieus waghou oor hulle wat al ook vir etlike jare hul laaste rusplek onder hom kom vind het. Hier in die begraafplaas onder die groot ou wyse bloekomboom is waar ek my ore en my gees instel en oopstel om te luister. My ritme word een met die blare wat liggies in die koel namiddagwindjie heen en weer swaai. En dan die stem van wysheid wat saggies in my oor kom fluister.
Ek is bly jy’s hier, my kind. Ons het jou gemis. Jy was lanklaas hier, maar ons verstaan. Dis vir jou nodig om die pot aan die kook te hou weg van hier. Ek het jou laat kom, want teen dié tyd weet jy mos dat die jare vinnig aanstap vir Ma en Pa. Jy hoef jou nie te kwel nie, want ek hou ook oor die twee van hulle ’n wakende oog. Moet jy net nooit van hulle vergeet nie, want hulle het nou meer as ooit ook jou daarwees nodig. Ek is so bly jy is hier, want so baie is geneig om te wag totdat dit te laat is.
Glo my, ek het al baie van hulle se trane hier sien vloei. Die meeste van hul trane was trane van berou omdat hulle nie die liefde en daarwees getoon het toe die lewe nog sigbaar was nie.
Het jy al ’n ent gaan stap om weer die mooi van ons geweste in te asem? Jy moet dit doen, want daarin lê genoegsame vreugde, vrede en helingskrag. Gaan loop nog ’n draai tussen die mense van jou komvandaan. Skep vir jou emmers vol lag en lewe, want daar is oorgenoeg hiervan te vind. Moenie oorweldig word deur die talle uitdagings wat jy dalk mag teëkom nie. Dis die lewe. . . onthou dit. Uitdagings sal ons oral vind. . . daarvan weet jy alte goed, want jyself het met hulle te make. Ek wil jou opnuut uitdaag om daai uitdagings van jou in geleenthede om te skep, my kind. Hier waar ek skadu verleen aan hulle wat nie meer met julle is nie, het ek al soveel onvervulde drome sien afsak onder ons sagte Sandveld-sand. Ek moes maar stille getuie wees hiervan. Wees en doen jy anders.
En as jy weer die pad weg van hier af moet aandurf, moet jy altyd weet dat die goue draad van jou komvandaan jou stille, sterke metgesel sal wees. Moenie vergeet om die stilte wat jy net hier by ons kan ervaar saam met jou te neem nie. Maak dit styf toe in jou sielsgoed-tassie en moenie toelaat dat iets of iemand daardie stilte en vrede by jou kom steel nie.
En as jy iewers op jou pad vorentoe die lastige teenwoordigheid van twyfel, vrees of mismoedigheid mag ervaar, moet jy altyd onthou dat jy nooit alleen is nie. Jy het die veerkragtigheid in jouself om die grootste storms wat dreig ’n uitklophou te gee.
En hier waar jy vir ’n oomblik onder my skadutakke kom rus vind, sal ek seker maak dat jy ’n volgende keer weer jou sielstenk kan kom volmaak. So, my kind, gaan met ’n geruste hart hiervandaan. Ek sal sorg dat Pa en Ma se plekkie op die bepaalde tyd hier onder my skadutakke gereed is vir hul laaste rusplek. Vir nou is hulle oukei. Hy wat die groot klok bestuur, sal self besluit wanneer die dag en uur daar is. Moet jy net nooit die groot gebod verontagsaam wat sê dat jy jou vader en jou moeder moet eer nie.
Die lewe is kort. Leef dit voluit. Moenie suinig wees om die vreugde wat jy daaruit ervaar met almal te deel nie. Ek hou ook jou laaste rusplekkie reg. . . hier onder my lowergroen skadutakke.





