Meisies en vroue van die Bergrivier het Saterdag Velddrif-krieketklub se eerste krieket-kliniek vir vroue bygewoon.Foto: Yaël Malgas


Meisies en vroue van die Bergrivier het Saterdag ’n dag op die krieketveld deurgebring, danksy die Velddrif-krieketklub.

Melvin de Bruyn en die span van dié klub het hul eerste krieket-kliniek spesifiek vir die skoner geslag gereël.

“Ons sou graag meer deelnemers wou hê, maar die dag was ’n sukses. Dit is hopelik die eerste van vele en ons glo die dag het belangstelling onder die meisies aangewakker,” het De Bruyn gesê.

Meisies van die Hoërskool Velddrif en vroue van Piketberg-krieketklub sowel as ’n groep van Mfesane en die plaaslike Jeug-kafee het almal geboul, balle gevang en gekolf by die kliniek. Die spelers het die geleentheid gehad om selfs by die Boland-veteraan James Albanie ’n les te kry.

Hoewel baie van die meisies nie aanvanklik veel geweet het van paaltjies of boulwerk nie, meen ’n paar hulle sal beslis by ’n vrouekrieketspan aansluit indien een gestig word. Jade Olkers, Annelinne Afrika, Gretchen Louw en Queisha Smith meen ten spyte van die sonbrand en die balvang wat by tye hul hande seergemaak het, was die dag beslis vet pret.

Die kliniek het met die eindstryd van die IKR Vroue T20-Wêreldbekereindstryd tussen Suid-Afrika en Australië saamgeval. Hoewel die Protea-vroue vasgeval het teen die Australiërs, meen De Bruyn dit was die perfekte naweek om die meisies opgewonde oor die sport te kry.

Die dag is in samewerking met die plaaslike Jeug-kafee en Mfesane gereël.

Volgens Cozette Tandy van die Jeug-kafee is die vaardighede wat die spelers deur die sport opdoen vaardighede en ook dissipline wat hulle vir altyd kan gebruik.

Bergrivier se burgemeester, Ray van Rooy, self ook ’n krieket-liefhebber, het ook die dag bygewoon.

. Meisies en vroue wat belangstel om krieket te speel kan Melvin de Bruyn by 083 756 2271 of Melissa Smit by 079 453 9569 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article