Dit raak al duurder vir Jan Alleman om elektrisiteit te bekostig. Foto: Ivan Bajalovic | Unsplash

Nóg stygings in kragtariewe kan huishoudings verder in ‘n oorlewingskrisis dompel, sê die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) in ‘n onlangse nuusverklaring.

Die vereniging, wat sowat 260 munisipaliteite verteenwoordig, het sy ernstige kommer oor ‘n omstrede skikking, wat tussen Nersa en Eskom bereik is, uitgespreek. Dié duur skikking het skokgolwe deur die land gestuur en behels ‘n bykomende R54 miljard in kostes weens hoër elektrisiteitstariewe, wat verbruikers oor die volgende drie jaar sal moet dra.

Salga is veral bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat dit op verbruikers gaan hê. Volgens die raadslid Bheke Stofile, die vereniging se president, is dié beoogde tariefverhogings nie bloot syfers op papier nie. “Verbruikers kan verder in armoede verval en dit kan plaaslike regerings se geldsake nadelig raak. Dit kan ook ongelykheid verder vergroot.”

Die skikking beteken tariefverhogings van 3,4% in 2026-’27, wat die totale verhoging vir dié tydperk tot 8,76% sal laat toeneem.

In 2027-’28 sal die verhoging 2,63% wees en die totale verhoging vir dié tydperk 8,83%. Dis syfers wat Salga laat rooi sien.

“Dit is ook slegte nuus vir plaaslike regerings omrede elektrisiteit ‘n sleutelinkomstebron is. Hoër tariewe kan tot onwettige aansluitings en gemeenskapsontevredenheid lei,” sê Stofile.

Salga doen ‘n beroep op die sektor om die skikking verder te ondersoek en vra dringende hervormings in die elektrisiteitsbedryf. “Die regering moet ingryp om arm huishoudings te subsidieer en kwesbare munisipaliteite teen nóg tariefverhogings te beskerm. Suid-Afrikaners kan nie stelselmatige onbevoegdhede met aanhoudende tariefverhogings red nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article