Om ’n eiendom te koop en geld, soms miljoene rande, aan die opknap of uitbrei daarvan te belê net om uit te vind dat daar ’n ontwikkeling reg in jou see-uitsig gebou word óf dat die een buurtkroeg in drie kuierplekke gaan ontaard, is maar van die verrassings wat al op huiskopers in die Weskus lê en wag het.

Weslander word oorval met klagtes van huiseienaars en is besig met verskeie in-diepte-ondersoeke.

Een probleem blyk te wees dat kopers nie die nodige vrae aan eiendomsagente stel tydens die kooptransaksie se onderhandelinge nie. Óf die agente laat sekere inligting “weg” of “vergeet” om dit te noem.

Kopers moet onthou dat eiendomsagente wetlik verplig word om die waarheid te vertel, en dit kan die verskil beteken tussen die koop van ’n droomhuis of die opgeskeep sit met ’n probleemhuis.

Die verhouding tussen ’n koper en ’n eiendomsagent is vergelykbaar met dié van ’n pasiënt en ’n dokter. Die koper moet op die kundigheid van die agent staatmaak en ook vertrou dat die agent sy/haar beste belange op die hart dra, en nes met ’n tweede opinie vir ’n mediese probleem kan amptelike bronne gebruik word om inligting soos verskaf deur ’n eiendomsagent te verifieer.

Een van die belangrikste aspekte waaraan voornemende kopers aandag moet skenk, is die woonbuurtdinamika, want nadat die koop afgehandel is, is die huiseienaar opgeskeep met die bestaande buurtkultuur wat hul lewe daagliks beïnvloed.

Benewens vrae soos wat die gemiddelde water- en elektrisiteitsrekeninge beloop, is ’n goeie vraag om te stel ook die redes waarom die verkoper wil verhuis.

Kopers kan nie alleenlik op die eiendomsagent se inligting staatmaak om ingelig te wees oor moontlike eiendomskwessies naby die koopperseel nie. Vra die agent, maar gebruik ook ander bronne om uit te vind oor moontlike projekte in én om die buurt waarin die koopperseel geleë is.

Kopers moet vooraf weet watter groot ontwikkelingsprojekte tans vir die buurt aan die gang is of beplan word. Moontlike vrae sluit in: Word daar enige soneringsveranderings oorweeg wat toekomstige ontwikkeling kan beïnvloed? Watter nuwe infrastruktuurprojekte soos paaie en openbare vervoer word vir die nabye toekoms beplan? Word daar nuwe ondernemings of kommersiële ontwikkelings verwag? Is daar ’n tydlyn vir die komende projekte? Wat is die potensiële nadele van die projek of watter impak het dit op die koopperseel?

Vra vir amptelike dokumente oor komende projekte sodat jy as koper ’n ingeligte besluit oor die transaksie kan maak.

Bly op hoogte van plaaslike gemeenskapsnuus om verdere insigte in potensiële projekte en die stand van misdaad in die gebied te verkry.

Voornemende kopers aanvaar ook summier eiendomsagente se woord oor misdaadkwessies. Die Weskus is nie meer die stil, geweldsmisdaadvrye gebied waar voordeure en vensters oopgelos kan word nie. Eiendomsagente wat nog dié droom verkoop, maak ’n wanvoorstelling net om die transaksie te beklink. Inwoners moet maar hier net so waaksaam wees as op enige ander plek in die land.

Verifieer die inligting wat ’n agent aan jou verskaf met amptelike bronne om die akkuraatheid daarvan te verseker.

Nog sleutelvrae waarvan kopers dikwels vergeet, is die tipiese demografie van die inwoners van ’n buurt. Dit gebeur gereeld dat mense aan die Weskus byvoorbeeld op ’n kleinhoewe kom aftree, net om oor naweke uit te vind dat die omliggende kleinhoewe-eienaars se jong kinders naweke met vierwielmotorfietse en veldfietse rondry. Die kopers sou dalk beter aangepas het in ’n stiller buurt waar hulle hul “stilte en rustigheid” kon geniet het.

Kopers wat later uitvind dat ontwikkelingswerke beplan word en glo die eiendomsagent het wel geweet en die koper doelbewus mislei, sal dit moeilik vind om dit te bewys.

Hieroor geld die caveat emptor-beginsel: Die koper is op die ou end alleen verantwoordelik om die gehalte en geskiktheid van die eiendom én die buurt te kontroleer voordat daar gekoop word. So, ongeag wat die eiendomsagent (wat vir die verkoper werk) of die verkoper sê, die koper moet steeds sy eie vooraf-navorsing doen.

. Bronne: Re/Max Suid-Afrika; The Guardian; The Standard.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article