’n Normale skooldag by Diazville Primêr is verlede week deur ’n skietery en dwaalkoeëls ontwrig.
Die skietery het Woensdag 2 November plaasgevind.
Volgens Lee-Ann Davids-Hartzenberg, die hoof van Diazville Primêr, kan sy nie veel uitbrei oor die skietery nie omdat sy nie die nodige inligting het nie, maar sy weet die koeëls het van buite die skoolterrein gekom.
Hartzenberg kon wel aan Weslander vertel dat die skool se voorman op die perseel gewerk het toe drie koeëls verby hom gevlieg en die skoolgebou getref het.
“Ons moes ons kinders heeldag in die klasse hou totdat skool vir die dag verdaag het. Meer inligting kan ek nie gee nie, want ons weet so min.”
’n Betroubare anonieme bron het aan Weslander gesê die skieters is glo minderjariges wat al voorheen gewelddadig opgetree en hieroor met die gereg gebots het.
Hartzenberg het Woensdag in ’n verklaring wat op die skool se Facebookblad uitgereik is, bevestig die situasie word gemonitor.
“My gebed is dat ons skoolgemeenskap weer vir ons almal veilig sal word – ’n plek waar ons almal in vrede en liefde met mekaar kan omgaan,” het sy genoem.
Hartzenberg het haar dank en waardering aan die ouers vir hul samewerking uitgespreek.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het gesê die polisie volg die inligting oor die beweerde skietery op, maar niemand het nog tot nou (druktyd, 9 November) ’n amptelike strafregtelike klagte by die Saldanha-polisiekantoor aangemeld nie.



