Die groot Kaapse kobra wat onlangs in Paternoster gevind is.Foto: Etienne Swanepoel


Weskussers weet die somerweer beteken dat koudbloedige diere soos slange weer hul verskyning maak.

Etienne Swanepoel van Dwarskersbos Snake Rescue & Conservation het Sondag (23 Oktober) ’n “buitengewone groot” Kaapse kobra in Paternoster gevang.

“Die noodoproep het ingekom toe ek tussen Klapmuts en Wellington was, waar ek oor twee dae ’n aanbieding van slanghantering deur die African Snakebite Institute by Exotic Animal World gedoen het. Die Paternoster-inwoner het geskakel terwyl ek reeds op pad was na ’n noodoproep uit Shelley Point vir ’n slang in ’n inwoner se gasteslaapkamer,” sê Swanepoel.

Hy werk al langer as vier dekades met slange en ander diere.

Dit sou hom twee ure neem om in Paternoster te kom. Intussen het hy die inwoners gemaan om altyd vyf groot treë van die slang weg te bly, maar om die reptiel se bewegings te alle tye dop te hou.

“Toe ek daar aankom, het drie inwoners aan weerskante van die struik waarin die slang skuiling gaan soek het, gestaan om te verseker hy glip nie weg nie,” sê hy.

Ná ’n paar minute se gesoek het Swanepoel die punt van die slang se stert gesien.

“Gelukkig het my opleiding en ondervinding hier tot my voordeel gestrek toe ek sien hoe groot die slang is – (dit was) loshande die grootste Kaapse kobra wat ek nog gesien of hanteer het. Die kobra was verbasend rustig en ek kon hom gou in die vervoerhouer wegsit.”

Swanepoel maan slange sal verdedigend optree wanneer hulle bedreig voel.

Met die hulp van ’n vriend, ’n mede-slanghanteerder van die African Snakebite Institute (ASI), het Swanepoel die Kaapse kobra gemeet en ’n paar foto’s geneem. “Hierdie buitengewone groot mannetjie- Kaapse kobra van 1,66 m en ’n gemiddelde omtrek van 15 cm sien ’n mens nie meer baie nie. Kaapse kobras is een van ons gevaarlike, giftige spesies in Suid-Afrika met ’n neurotoksiese gif wat die senuweestelsel aantas en verlamming veroorsaak,” verduidelik Swanepoel.

Hy waarsku enigeen wat deur ’n Kaapse kobra gebyt word, moet so gou as moontlik by die naaste mediese fasiliteit uitkom vir behandeling.

Ná Paternoster is die plaaslike slangvanger na Shelley Point waar hy ’n giftige Kaapse sandslang uit die gastekamer verwyder het.

Beide slange is in veilige gebiede vrygelaat waar hulle nie weer gevaar vir mense sal inhou nie.

Swanepoel se wenke vir wanneer inwoners ’n slang teëkom:



.
Bly ten minste vyf treë weg van ’n slang. Onthou om die slang se bewegings dop te hou en hou geliefdes en troeteldiere ook veilig weg;



.
Kontak onmiddellik ’n professionele slanghanteerder en moenie die slang uit sig verloor totdat die hanteerder daar aankom nie; en



.
Laai die ASI Snakes-app af. Daar is kontakbesonderhede van slanghan­teerders, noodhulp- en ander inligting wat gedurende “slangseisoen” mense veilig kan help hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article